Die Hoërskool Bonnievale se skoolkoerant, genaamd Voorwaarts, het weer eens by vanjaar se Netwerk24- skolenuus-kompetisie met vele pryse weggestap, waaronder as die algehele wenner in die afdeling vir beste gedrukte skoolkoerante in die land.
Hiervoor het die skoolR25 000 gewen.
Volgens Germarie Samuel, die skakelonderwyser by die Hoërskool Bonnievale vir Voorwaarts, het die skool reeds 11 keer as algehele wenner weggestap – hetsy dit die prys vir beste gedrukte koerant of beste digitale koerant was.
Ander pryse wat in vanjaar se kompetisie gewen is, sluit in die beste nuusberig deur Renatha Damons, een van Voorwaarts se joernaliste, asook die beste nuusfoto, deur Vanwyk de Wet van die oorstromings in die gebied.
“Voorwaarts is vir die skolegemeenskap van groot nut. Dit is propvol inhoud – van aktuele skoolsake en profielonderhoude met onderwysers en bekendes tot fassinerende artikels, fotobladsye en ook interaktiewe elemente, soos QR-kodes wat lesers van die koerant na ’n ander digitale blad herlei,” het die beoordelaars trots gesê oor die hoërskool Bonnievale se skoolkoerant.
“Boonop bied hierdie skoolkoerant verskeie afdelings soos ‘sake’, waar spaarwenke en finansiële geletterdheid met leerders gedeel word, en ‘ondersoeke’ soos hoe om jou leerlingrybewys te kry. Dis nuttig en puik.”
Volgens Samuel is die leerders “baie trots” op hul toekennings.
“Die redaksiegroep was gisteraand ’n behoorlike buzz van gelukwense en opgewondenheid. Ons as skool is ook vreeslik trots op die span,” sê Samuel.
Die prysgeld is vir die skool ’n groot aanwins, en hoewel die Voorwaats-span nog nie finaal besluit het waarop om dit te bestee nie, sal dit “vir seker gaan aan iets om die koerant te verbeter”, het Samuel gesê.
Wat is Voorwaarts se rede vir sukses?
Volgens Samuel is dit omdat “die koerant deur die leerders bedryf word en nie deur volwassenes of ’n buite-maatskappy nie”.
“Die leerders kom ook voortdurend met nuwe idees vir die koerant vorendag, wat ons altyd ’n kortkoppie voor die ander skole se koerante hou,” het Samuel verduidelik.
Volgens haar skryf die Hoërskool Bonnievale reeds elke jaar sedert 2007 vir Netwerk24 se Skolenuus-kompetisie in.



