Twee voetgangers is Sondag 8 Januarie op die N1 by De Doorns deur ’n motor getref.

“Die slagoffers het langs die pad geloop toe hulle getref is. Die bestuurder van die motor het egter van die toneel af weggery en na die polisiekantoor gegaan om die ongeluk aan te meld,” verduidelik die De Doorns-polisie se woordvoerder.

Met die polisie se aankoms op die toneel om 22:15 was een van die voetgangers egter dood.

Gerugte het die ronde op sosiale media gedoen dat ’n vragmotor en ’n taxi oor die oorledene gery het voordat die polisie op die toneel aangekom het. Hierdie gerugte kon egter nog nie deur die polisie bevestig of ontken word nie.

Dit is ook onduidelik of die bestuurder van die motor in hegtenis geneem is, maar dit is wel bekend dat die De Doorns-polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek. – Tamsyn Jantjies

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article