Die 91ste Vrouelandbouvereniging-konferensie (VLV) van die Worcester-sirkel is op 13 Maart deur die Maria Stofberg-tak in die Lionssaal in Worcester aangebied.
Boodskappe ter ondersteuning is deur Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, en Johan Nel, president van die Lionsklub, gebring.
Die tema, “Ons jeug, ons toekoms”, is veral deur die gasspreker, dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse provinsiale minister van landbou, aangeroer.
Hy het die vroue geïnspireer om hande te vat waar die nood is en om met aktiewe burgerskap te help om Suid-Afrika te red.
Hy moedig gestruktureerde opleiding van jongmense, veral in tegniese en landbouskole, aan, asook opleiding van boere.
Melding is gemaak van Bonnievale se gemeenskap wat groot sukses behaal met ’n landelike projek waar jongmense in die landbourigting opleiding ontvang.
Die prysuitdeling is altyd ’n hoogtepunt. Vanjaar het die Maria Stofberg-tak weggeloop met die meeste trofeë (11), die Ceres-tak met drie en die Robertson-tak met twee. Annie le Roux van die Maria Stofberg-tak het die trofee vir die mees uitstaande artikel, ’n gebreide trui, ontvang. Sunette de Villiers, oudpresident van die Worcester-sirkel, het die trofeë oorhandig.




