’n Vliegtuig van die Worcester-vliegklub het Saterdagoggend neergestort toe dit in stormsterk wind probeer land het. Dit het in die gras, sowat 50 meter vanaf die teeroppervlakte van die pad na Nekkies, tot stilstand gekom en aan die brand geslaan.
Die vlieënier, Tim Oluwatosin, is ’n vlieginstrukteur by die klub se vliegskool. Hy en sy passasiers het ongeskonde uit die Piper Cherokee 180 ontsnap.
Die vliegtuig het bykans totaal uitgebrand en teen middagete was die polisie en brandweer nog op die toneel om dit te beveilig, aangesien daar nog brandstof in die vliegtuig se tenk was.
Ooggetuies op die toneel het aan Standard vertel dat hulle ’n harde slag gehoor het. Toe hulle nader hardloop, het hulle gesien hoe drie mense uit die vliegtuig ontsnap voordat dit aan die brand geslaan het.
“Een het nog gehop soos hy uitgespring het,” vertel een van die ooggetuies. “Ons het nog nooit so ’n slag gehoor nie,” vertel nog een.
Die brandweer het blitsig die brand geblus.
Volgens Marcel Viljoen, die voorsitter van die vliegklub, was die stormsterk wind wat opgekom het beslis die oorsaak van die ongeluk.
Volgens hom het die ongeluk omstreeks 11:00 plaasgevind. Die wind het kort voor dit binne enkele minute stormsterkte bereik.
Dit is maar die tweede keer in 45 jaar dat ’n ongeluk van dié aard by die vliegklub gebeur, sê Viljoen.
Die klub wag nou vir die owerhede van Burgerlugvaart om na die toneel uit te kom, voordat dit opgeruim kan word. Verkeer na en van die Nekkies-afdraai word beheer.





