Een persoon is Donderdag dood in ’n vliegtuigongeluk in Ceres.
Die ongeluk het omstreeks 17:10 in die Swaarmoedpas op die Winterbach plaas gebeur.
Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het en in watter rigting die vastevlerk mikroligte vliegtuig onderweg was ten tyde van die ongeluk.
Alle nooddienste het op die ongeluk reageer. ’n Woordvoerder van die provinsiale polisie het die volgende oor die ongeluk gesê: “Die Ceres-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek vir ondersoek geregistreer het na ’n ligte vliegtuigongeluk op Bo-swaarmoedpad in Ceres Donderdag 5 Oktober ongeveer 17:10. Die slagoffer, ’n onbekende man, is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek,” het sersant Wesley Twigg gesê.
Die identiteit van die vlieënier is nog nie bekend nie. Standard & Gazette het ’n navraag na die burgerlugvaartowerheid (SACAA) gestuur, maar het nog niks terugvoering ontvang nie.





