Vriende en familie van die oorledenes het ’n aandenking opgerig op die toneel waar die brand ontstaan het. Die oorledenes se huis het tot op die grond afgebrand.Foto: JP Myburg


’n Brand wat verlede Woensdag (9 November) om 04:40 in Roodewal ontstaan het, het die lewe van ’n geliefde paartjie geëis.

Verushka Adams (29) en haar kêrel, Denzil Fortuin (40), se gesinne is verpletter nadat hulle die nuus ontvang het dat hul kinders in die brand dood is.

“Mense in die straat het ons kom roep en gesê daar is ’n brand by my dogter se huis. Ons het dadelik soontoe gehardloop. Hulle woon ’n paar strate van ons af, en toe ek kyk, het ek net die rook sien trek. Die trane het begin loop; ek wou dit nie glo nie,” het Veronica Adams aan Standard gesê.

Sy moes haar dogter se verkoolde liggaam enkele minute later probeer uitken uit die oorskot van die paartjie se beskeie en klein huisie agter die Roodewal-woonstelle.

“Ek kan nie glo my dogter is weg nie. Haar twee kinders bly nog by my en hulle vat dit ook swaar. Hulle is maar vyf en sewe jaar oud. Hoe moet hulle dit verstaan?”

Die plaaslike polisie het die voorval bevestig en gesê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die brand die paartjie se lewe tragies beëindig het. Dit is op hierdie tydstip nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie.

Verushka is in die brand dood en Denzil is later weens vermoedelik rookinaseming dood.

“My dogter sou altyd moeite doen en niks was vir haar ooit te veel nie. Ek het haar gereeld uitgehelp soos ek kon, en sy het dit altyd waardeer. Ek gaan haar gewis vreeslik mis.”

Ooggetuies het aan Standard gesê hulle het nie ’n struweling gehoor of iemand wat om hulp roep nie. Omstanders sê hulle het die rook geruik en toe later die vlamme gesien.

Die brandweer is dadelik ontplooi danksy ’n buurman se oproep.

Ander bespiegeling, wat misdaad insluit, het ook die ronde gedoen. Die Worcester-polisie kon dit egter nie bevestig nie.

’n Begrafnis is Woensdag 16 November in ’n nabye kerk gehou.

“Sy het nie ’n begrafnispolis gehad nie, maar ons is dankbaar vir die gemeenskap en die raadslid se hulp. Ons waardeer dit,” voeg Adams by.

Die paartjie se familie en vriende is verpletter en het ’n blomkrans en gedenkstene by die toneel van die brand opgerig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article