Die Worcester-polisie het meer as 60 mense in hegtenis geneem vir openbare geweld tydens die chaos wat met die taxi-staking gepaard gegaan het.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het verlede Donderdag met ’n week lange staking begin omdat die taxiraad meen die taxibedryf word onregverdig deur die Wes-Kaapse provinsiale regering en die Kaapstad-metro behandel.
Nie lank voor dit nie het die Stad Kaapstad aangekondig dat hy strenger teen verkeersoortreders gaan optree en ook voertuie gaan skut.
Stakings het verlede Donderdag in die Kaap begin terwyl taxibestuurders Vrydag in Worcester die verkeer in Hoogstraat ontwrig het.
Maandag het die situasie vererger toe verskeie taxibestuurders amok begin maak het. Verskeie gerugte en video’s het die ronde begin doen. Een video wys hoe ’n bestuurder ’n bus aftrek en die bestuurder dwing om die voertuig te verlaat. ’n Ander video wys hoe ’n hele paar taxi’s Neethlingstraat in Roodewal met verskeie brandende items versper.
“Die polisie is na die toneel uitgestuur en met hul aankoms het hulle taxi’s gevind wat die pad versper en bande brand. Die taxi-bestuurders het hulle met klippe begin gooi. Die polisie het toe rubberkoeëls afgevuur om hulle uiteen te jaag. Twee bestuurders is op die toneel in hegtenis geneem vir openbare geweld. Niemand is beseer nie en nie een van die staat se voertuie is beskadig nie,” het AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, aan Standard verduidelik.
In Zwelethemba is ’n verdere 61 mense weens openbare geweld in hegtenis geneem. Om 06:30 is ’n bakkie in Raymond Polletrylaan aan die brand gesteek.
“Betogers het die bestuurder van die Toyota Hilux-bakkie uit die voertuig gehaal, die bakkie aan die brand gesteek en terwyl dit gebrand het die bakkie met klippe bestook. Daar was ook minderjariges wat in hegtenis geneem is,” het Jacobs gesê.
Terselfdertyd is nog ’n voertuig by die ingang na Zwelethemba op die Robertsonpad aan die brand gesteek.
“ ’n Trokkie is ook met klippe bestook en aan die brand gesteek. Die bestuurder van die voertuig was op pad om mense vir werk te gaan oplaai. Toe hy sy voertuig stop, is die voertuig met klippe bestook. Hy het uit die voertuig geklim en weggehardloop. Hy het ’n rukkie later gesien hoe die voertuig aan die brand gesteek word.”
Later in die dag, om omstreeks 18:30, het gewelddadige optrede in Zwelethemba voortgegaan.
“ ’n Trok wat by Zwelethemba wou ingaan, is met klippe gegooi, maar die bestuurder het daarin geslaag om uit Zwelethemba te kom. Later het die groep gegroei en hulle het bande in Mtwazistraat voor die Food World-winkel gebrand. Hulle het toe die winkel se deure oopgebreek en die winkel geplunder. Die bedrag van die skade en gesteelde goedere is in dié stadium nog onbekend.”
Maandagaand laat het verskeie video’s die ronde gedoen wat wys hoe mense bande en ander artikels in die pad brand en hoe mense die Food World-winkel plunder, asook die Shoprite en Easy Gas-winkels.
“Hulle het by omtrent tien verskillende winkels ingebreek en hulle geplunder. By die gaswinkel het hulle 84 gaskanne gesteel. By ’n ander winkel het hulle selfone, meubels en TV-stelle gesteel, en by ’n skeepshouer-winkel verskeie pruike.
“Die spaza-winkels is aangeraai om Dinsdag toe te bly en dit het die inwoners baie geaffekteer omdat hulle nie toegang tot brood en melk en krag gehad het nie.
“Die Shoprite-winkel het erg deurgeloop. Soveel so dat die res van die goedere wat in die winkel oorgebly het in vragmotors gelaai is en deur ons uit die township begelei is.”
Jacobs het Dinsdag laatmiddag gesê die situasie in die dorp was rustiger en dat die polisie dit monitor.
“Almal is ontbied om met die taxi-geweld te help, die teenbende-eenheid, alle sektor- bevelvoerders, die kommunikasiebeamptes asook die honde-eenheid.”



