Die twee finaliste vir Sondag se eindstryd is Quickies vlakkiekrieketklub se A-span (geel) (bo) en Zazon (groen en swart) (onder).

Credit: SYSTEM

Alle paaie lei Sondag (30 April) na Greenvalley in Fairbairnstraat (Worcester) vir die Hartwig Lions-vlakkiekrieketklub se jaarlikse Big Bash-eindstryddag.

Zazon United van Hexpark se A-span sal teen die Quickies-vlakkiekrieketklub van Roodewal se A-span kragte meet in ’n wedstryd waar ’n wenner moeilik voorspel kan word.

Albei klubs beskik oor skitterende spelers wat enige wedstryd deurentyd op ’n mespunt kan balanseer en die kolf behoorlik kan swaai, sou dit nodig wees.

Zazon sal swaar steun op Edwin January, wat sy ankerman deur die toernooi was, terwyl Renaldo Phillips, sy kaptein, deurentyd gewys het hoe lei ’n mens jou span na sukses.

Quickies het ook ’n hele paar spelbrekers, onder wie Ruben Lukas, wat in baie gevalle die wedstryd op hom neem, terwyl Ashwin Lukas en Donovan van Rooi gevaarlike boulaanvalle kan wegstuur wanneer dit regtig saak maak.

Zazon het eerste in groep C geëindig en moes eers in die kwarteindronde met die Pumas klaarspeel, waarna ’n moeilike Young Stars in die halfeindronde gewag het terwyl Quickies met Pro Eagles in hul kwarteindstryd afgereken het, en daarna korte mette met die verrassingspakket van die toernooi, Tarranankie-vlakkie-krieketklub, in die halfeinstryd gemaak het.. Die wedstryde begin hierdie komende Sondag (30 April) om 12:30 met die derdeplek-uitspeelstryd tussen Tarranankie en Young Stars, waarna die amptelike opening om 15:00 sal plaasvind.

Die eindstryd word om 15:40 gespeel, en die prysuitdeling begin omstreeks 18:30.

Toeskouers word aangemoedig om vroeg te kom om ’n goeie sitplek te verseker. Heerlike vermaak sal deurentyd verskaf word met lekker pryse wat weer eens vir almal op die spel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article