Villagers Worcester leierloos ná ‘kru taal’ teen Rangers

Denver Pienaar, voorsitter van Villagers Worcester, is tydelik deur die BRU geskors hangende ’n ondersoek.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Die voorsitter van die Villagers Worcester-rugbyklub, Denver Pienaar, is geskors nadat hy na bewering kru taal teenoor spelers van ’n opponerende rugbyklub van die plaasvervangerbank gerig het.

Dit blyk nie net die bal is in die Villagers Worcester- en Robertson Rangers-wedstryd, wat op 21 Mei op Villapark plaasgevind het, rondgeslinger nie – na bewering is kru taal ook op die Rangers-plaasvervangersbank gemik.

Rangers is ná die wedstryd huis toe nadat hulle met ’n skrale twee punte (35-33) teen Villa verloor het, maar vir die tuisspan was die gevolge meer as om net na die tekenbord terug te keer. Pienaar se sitplek het warm geword toe ’n klagte van wangedrag teen hom by die Boland-rugbyunie ingedien is.

In ’n brief aan klubs in die BreëLangeberg-grootuitdaagliga wat Standard onder oë gehad het, het Boland Rugby Pienaar geskors hangende die tugsaak teen hom nadat die klagte deur Rangers ingedien is.

Boland Rugby het ook ’n sterk boodskap in die brief gestuur dat wangedrag van dié aard nie sonder gevolge vir klubleiers sal wees nie en ook nie geduld sal word nie.

Na wat Standard van ’n betroubare bron verneem, is dié soort gedrag van Pienaar ’n gereelde gebeurtenis, aangesien die unie in ’n onverwante onlangse tugverhoor, wat ook met onbehoorlike gedrag van Pienaar verband hou, gesê het dit is belangrik dat sy gedrag vir verdere tugstappe ondersoek word.

Die Boland-rugbypaneel het die bestuurskomitee in die brief aanbeveel om Pienaar as ’n voorsorgmaatreël te skors sodat hierdie bewerings behoorlik ondersoek kan word.

Boland Rugby het aan Standard gesê hy wil nie verder oor die saak kommen­taar lewer nie, aangesien dit intern ondersoek word.

Villagers Worcester het geweier om kommentaar oor die saak te lewer en Standard na Boland Rugby verwys.

Robertson Rangers is ook vir kommentaar gekontak, en ’n woordvoerder van dié klub het gesê hulle kan ongelukkig nie in hierdie stadium kommentaar oor die saak lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article