MONTAGU – Villagers Montagu het Saterdag (16 Maart) sy buurman, Montagu-klub, in ’n baie opwindende, maar spannende Grootuitdaagbeker-kragmeting met 28-25 die loef afgesteek.

Die wedstryd is op ’n stampvol King Edward-sportterrein gespeel.

Montagu het eerste bloed geruik toe sy skrumskakel, Ryan George, ná ’n oortreding deur die besoekers met ’n strafdoel geslaag het.

Vir die grootste gedeelte van die kragmeting hierna het die wedstryd wipplank gery, wat die spanning en intensiteit net meer verhoog het.

Villagers se agsteman en kaptein, Bradley Ruiters, was eerste onder die pale vir ’n drie wat suksesvol deur die losskakel, Lee van Oordt, tussen die pale deurgestuur is. Villagers het die voortou met 7-3 geneem.

Nie lank hierna nie, het Montagu van ’n strafskop af vinnig gespeel en die bal vir sy regtervleuel, Handré Ontong, gevoer, wat in die regterhoek afgerond het en die telling tot 8-7 vir Montagu laat groei het.

Die naelbytstryd het voortgeduur en Liam Pekeur (regtervleuel) het met ’n netjiese strafdoel geslaag om die telling na 10-8 vir Villagers te bring.

Teen die einde van die eerste helfte het die momentum van die wedstryd ná twee vinnige drieë in Montagu se guns geswaai en die rustydtelling was 22-10 vir Montagu.

Die tweede helfte was ’n senutergende affêre vir albei spanne se ondersteuners.

Van Oordt, wat ’n goeie wedstryd vir Villagers gehad het, het ’n opportunistiese onderskepdrie gaan druk, nadat hy die bal onderskep en meer as die helfte van die veld gehardloop het sonder dat ’n hand op hom gelê is, om sy span se agterstand te verklein met die telling wat 22-17 geword het.

Die spanne het mekaar deurentyd harde bene laat kou.

Die spanning het toegeneem toe Yushwin Hattingh ná ’n verwoede aanval deur Villagers ’n onverdoelde drie aangeteken het om die telling 22-22 te maak.

En weer was dit kop-aan-kop ná strafskoppe vir albei spanne op 25-25.

Die baie spanningsvolle wedstryd het danksy Van Oordt se skopvoet en senuwees op 28-25 vir Villagers geëindig.

Albei spanne is vroeër in die hitte van die stryd met ’n geelkaart elk gestraf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article