Alver UysAlle paaie het Saterdag 21 September na Bolandpark in Worcester gelei, waar Boland Rugbyunie se uitspeelwedstryde vir die Streekuitdaag-kompetisies plaasgevind het.

Spanne wat hier sou seëvier, het seker gemaak dat hulle na die Grootuitdaag-afdeling van volgende seisoen se kompetisies in hul onderskeie streke sou promoveer.

Tulbagh het in die eerste wedstryd van die dag met Villagers van Newtown buite Wellington kragte gemeet.

Dit was veral die twee pakke voorspelers van die onderskeie spanne wat mekaar voorlangs behoorlik tot groot vermaak van die groot kontingent ondersteuners van albei spanne aangevat het.

Tulbagh het eerste bloed geruik toe sy heelagter, Ashwin Williams, ná ’n skrumoortreding met ’n netjiese strafskop geslaag het.

Sake is egter gelyk gemaak toe Villagers se losskakel, Enrique Jaftha, ook met ’n strafskop die kol vind.

Kort hierna het die Wellingtonners die voortou geneem toe Hilton Robyn (slot) oor is vir ’n drie. Tulbagh het egter sterk teruggekom en met ’n sewepunter geantwoord toe Algar August (losskakel) onder die pale gedruk het. Williams het verdoel en Tulbagh het rustyd met 10-8 voorgeloop.

Ná rustyd het Robyn sy tweede drie gedruk. Met Jaftha se suksesvolle doelskop was Villagers 15-10 voor. Kort hierna is ’n strafdrie egter aan Villagers toegeken om sy voorsprong na 22-10 te rek.

Tulbagh het egter terug in die prentjie gekom toe sy regtervleuel, Jay-lee Wee, oor is vir ’n onvervyfde drie. Sy binnesenter, Maxwell Solomons, het die wedstryd vir sy span verseël toe hy ná ’n skitterende breekslag oor is vir ’n onvervyfde drie om die eindtelling op 27-15 in Villagers Newtown se guns te beklink.

Daarmee verseker Villagers dat hy volgende seisoen in die Witzenberg-afdeling van die Grootuitdaagbeker gaan meeding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article