Saterdag (21 Mei) het Villagers Worcester hope karakter getoon deur vir die volle duur van die wedstryd teen die pasaangeërs in die liga, Robertson Rangers, gefokus te bly om uiteindelik met 35-33 as oorwinnaars van die veld te stap.

Hierdie spannende Grootuitdaag-wedstryd het vooraf groot belangstelling gaande gemaak en ondersteuners het Bolandpark reeds vroegdag stampvol gepak – juis omdat Rangers tot voor Saterdag se kragmeting volgens sosialemedia-berigte beslis nie van plan was om sy status as voorlopers sommer op ’n skinkbord weg te gee nie.

Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop met geen genade wat gegee – óf gevra – is nie.

Villa se skrumskakel, Matthew Nortje, moes sommer in die eerste minuut behandeling vir ’n bloedbesering ontvang.

Villa het egter (soos in al sy vorige ligawedstryde vanjaar) sy voortreflike skrumwerk ten toon gestel en veral voorlangs behoorlik stem dikgemaak.

Na een só ’n skrum is die linkervleuel Cubitt Micheals in besit gestel en toe hy voorgekeer word, was buitesenter Jenno April by om af te rond. Met losskakel Graeme (Cooper) Cupido se suksesvolle doelskop, het Villa sommer vroeg-vroeg met 7-0 voorgeloop.

Kort hierna is ’n strafskop deur die skeidsregter, Curtley Booysen, van Overberg aan Rangers toegeken, wat die losskakel Dawie Conradie in punte omskep het om die agterstand na 7-3 te laat krimp.

’n Belowende beweging van Villa het hierna lelik skeefgeloop toe ’n bal losgespat het en Rangers se buitesenter Nathan Carolus die bal opgepik en gaan druk het. Conradie se doelskop het egter links verbygetrek.

Villa het byna onmiddellik teruggeslaan toe April skerp gebreek het. Toe hy kort voor die lyn platgetrek word, was Micheals by om onder die pale te gaan kuier. Met Cupido se geslaagde doelskop loop Villa nou 14-8 voor.

Twee suksesvolle strafskoppe deur Cupido het Villa se voorsprong na 20-8 gerek.

Die besoekers het egter nooit bes gegee nie en is beloon toe die loskopstut Tommy Bezuidenhout met brute krag oorgebars het. Conradie het skitterend uit die hoekie verdoel om die agterstand na 15-20 te verklein.

Kort voor rustyd het die agterstand verder gekrimp toe Conradie weer met ’n strafskop geslaag het; 20-18 in Villa se guns.

Kort ná rustyd het Villa nog ’n sewepunter gekry toe die regtervleuel, Lorenzo Muggels, oorgegaan het, wat die heelagter, Yazeed Johnson, pragtig uit die hoekie verdoel.

Die telling het na 32-18 gerek toe die plaasvervanger-skrumskakel Chris Daniels steelkant omgebreek het en April vir sy tweede drie gevoer het. Cupido se doelskop het egter links verbygetrek. Conradie het hierna met ’n strafskop geslaag om die telling 32-21 in die tuisspan se guns te maak.

Kort hierna is ’n strafskop aan die besoekers toegeken en met ’n slim stukkie spel het skrumskakel Brendon Erasmus ná ’n vinnige tikskoppie in die hoek oorgegaan. Conradie se doelskop was egter links verby.

Die besoekers het hierna wel voorgeloop toe flank Steven Johnson langs die pale oorgegaan en Conradie verdoel het om Rangers met 33-32 te laat voorloop.

Met die uurglas byna leeg het Villa ’n Rangers-speler ná sy afskop in besit van die bal betrap. Hy het verbete aan die bal vasgeklou en Booysen was verplig om ’n strafskop aan Villa toe te ken. Met asems wat aan albei kante opgehou is, het Cupido koelkop aangetree en die bal suiwer deur die latte geskop vir ’n welverdiende oorwinning van 35-33 vir Villa.

In ’n aksiebelaaide hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Rangers B met 17-3 geklop en hierdeur hul onoorwonne status behou. Villa se derde span het Rangers C met 22-3 klop om nie net ’n bonuspunt te verseker nie, maar ook hul onoorwonne status te behou en dit sommer ook drie in ’n ry te maak.




.

Saterdag reis Villa na Swellendam waar hulle Swellies gaan takel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article