Worcester Villagers het Saterdag (22 Junie) sy doelwit om liga-louere met mening uitgespel toe hy sy bure Rawsonville United op Bolandpark met 34-17 geklop het nadat hy teen rustyd nog met 15-17 agter was.
Met hierdie bonuspunt-oorwinning het hy ook sy visier op dier voorlopers Robertson Town asook hul ander buurman, Hammies, behou. Die wedstryd self het heelwat opwinding, maar ook sy kwota geelkaarte deur die skeidsregter, Ruben Isaacs, van Swartland, opgelewer, wat heelwat glans van die wedstryd ontneem het.
Die tuisspan, Villa, het sommer vroeg-vroeg sy stempel op die wedstryd probeer afdwing, maar Rawsonville United se rotsvaste verdediging het verhoed dat Villa punte aanteken. Villa het wel die telbord aan die rol gekry toe die binnesenter Ambrose Steyn met ’n netjiese strafskop van nagenoeg 40 m en boonop redelik skuins, geslaag het. Die voorsprong is egter byna onmiddellik uitgewis toe Rawsies se losskakel, Mouries Faroa, sy span se eerste punte met ’n maklike strafskop kon aanteken. Rawsonville het kort hierna sy neus voor gekry toe ’n strafdrie ná ongeoorloofde spel aan hom toegeken is. Villa het sake kort hierna weer gelyk gemaak toe sy agsteman, Wayde Anders, oor is vir ’n drie en Steyn verdoel het. Rawsonville het nooit bes gegee nie en is met ’n pragdrie deur sy regtervleuel, Tiano Arendse, beloon wat ná ’n volle agterlyn-beweging afgerond het en Faroa vir ’n 17-10-voorsprong verdoel het. Villa was kort voor rustyd sterk terug in die prentjie toe sy haker, Johannes Geldenhuys, vir ’n onvervyfde drie oorgebars het.
Villa het ná rustyd met nuwe vuur hervat en is byna onmiddellik met ’n drie deur sy loskopstut, Anele Zingitwa, beloon. Sy skrumskakel, Girshwin Africa, kon dit ongelukkig nie verdoel nie. Die telling het tot 27-17 gestyg toe sy woelwater-flank Mario Marinus met ’n pragtige vaartversnelling ’n hele paar teenstanders gepypkan en oorgegaan het vir die bonuspunt-drie en Africa ook met die doelskop geslaag het. Villa het die wedstryd beklink toe plaasvervanger-vleuel Kevin-Shane Philander ná ’n volle agterlyn-beweging gedruk en Africa met die doelskop geslaag het vir die eindtelling 34-17.
In ’n eensydige hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes hul eweknieë van Rawsonville 32-0 gewen terwyl Villa se derde span in die eerste wedstryd van die dag Rawsonville se derdes met 29-14 getroef en daarmee ’n bonuspunt-sege beklink het.
Saterdag (29 Junie)z speel Villa weer tuis op Bolandpark teen Ashton United.




