Sergio van Rhyn, agsteman van Villagers Montagu, sit op loop met die bal terwyl ’n Ashton United-verdediger hom van agter probeer lak. Van Rhyn, wat met sy kragtige stormlope hoofbrekens vir die tuisspan besorg het, het ook die wendrie aangeteken. Aan sy linkerkant is sy kaptein, Bernard Swarts, gereed om te ondersteun. Villagers het die Grootuitdaagbekerwedstryd teen Ashton op die Cogmanskloof-sportterrein naelskraaps met 24-21 gewen. Foto: Norman Evertson


ASHTON – Dit was verlede Saterdag (22 Junie) die tweede keer vanjaar dat Villagers Montagu met Ashton United in die Grootuitdaagbeker­kompetisie afreken.

In die eerste ronde het Ashton op die King Edward-sportterrein ook die onderspit teen Villagers gedelf.

Die vreugdevure het ná die wedstryd sommer hoog in die rooi-en-wit-kamp gebrand nadat Villagers Ashton op sy tuisveld, die Cogmanskloof-sportterrein, in ’n spannende Grootuitdaagbeker­wedstryd naelskraaps met 24-21 geklop het.

Ashton was kookwater in die eerste helfte. Met draaityd was hy in ’n baie gunstige posisie om die wedstryd te wen nadat hy ’n goeie voorsprong opgebou en met rustyd 21-7 voorgeloop het.

Die tuisspan het eerste bloed geruik toe Mickyle Snyders gaan druk en Breyton Plaatjies verdoel het om die telling 7-0 te maak.

Die telling het minute later na 14-0 vir die tuisspan gegroei nadat Navan Lukas agter Villagers se doellyn gaan kuier en Plaatjies met sy tweede doelskop geslaag het.

Die besoekers het ná so ’n halfuur se spel met ’n pragdrie deur Emmanuel Pietersen, wat deur Ronaldo Koker verdoel is, teruggeslaan om die telling na 14-7 te neem.

Ashton het kort hierna sy voorsprong weer tot 21-7 vergroot nadat Westley Abrahams oor is en Plaatjies vir ’n derde keer die teiken getref het.

Hoewel Villagers kort voor rustyd meedoënloos aangeval het, kon hy nie deurkom nie.

Ashton se verdediging was op daardie tydstip rotsvas en die spanne het gaan water drink met die telling steeds 21-7.

Nadat spel vir die tweede helfte hervat is, het Ashton die kluts heeltemal kwytgeraak, terwyl Villagers met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom het.

Eers het Liam Pekeur gaan druk en daarna het Dillin Williams ook Ashton se doellyn oorgesteek om die telling 21-17 te maak.

Die klein punteverskil het tot ’n spannende einde gelei omdat ’n onverdoelde drie genoeg vir die besoekers sou wees om die wa deur die drif te kry.

En toe gebeur dit ook presies so.

Sergio van Rhyn, woelige agsteman van Villagers wat heelmiddag met sy kragtige stormlope hoofbrekens vir die tuisspan besorg het, bars in die laaste oomblikke van die wedstryd oor vir die wendrie wat deur Curtley Deelman verdoel is.

Maar Ashton, wat geen punte in die tweede helfte kon aanteken nie en boonop sy gerieflike voorsprong weggesmyt het, het net voor die eindfluitjie nogtans ’n geleentheid gehad om ’n moontlike gelykopuitslag af te dwing toe ’n strafskop binne trefafstand aan hom toegeken is.

Hy het egter verkies om ’n tikskop te neem en aangeval om te probeer om die wedstryd te wen, maar in die proses balbesit afgestaan waarna Villagers die bal uitgeskop en die wedstryd met 24-21 naelskraaps in sy guns beklink het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article