Gershrick Didloff, stut van Villagers Montagu, probeer wegbreek met die bal, terwyl Swellendam se vaskopstut (op die grond) hom aan die been beetkry. Villagers het die grootuitdaagbekerkragmeting ná ’n hengse geswoeg met 27-23 gewen. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu, wat Saterdag (11 Mei) die gasheer vir Swellendam- rugbyklub was, moes aan die einde van die dag baie hard werk om die besoekers op die King Edward-sportterrein met 27-23 te troef.

Vanuit die staanspoor het Swellendam die hongerste van dié twee vir ’n oorwinning gelyk. Hy was die ene vuur en vlam en het met groot geesdrif gespeel.

Daarby het hy Villagers gelooi met lang skoppe in ’n poging om gebiedsvoordeel te wen en so die tuisspan onder druk te plaas. Soms het dit vrugte afgewerp.

Die besoekers het eerste punte op die telbord gekry danksy ’n suksesvolle strafdoelpoging. ’n Verdoelde drie en nog ’n strafdoel later het daartoe gelei dat Swellendam met rustyd 13-5 voorgeloop het.

Villagers het aanvanklik kwaai in die lynstane gesukkel. Boonop moes hy vir tien minute met veertien spelers klaarkom nadat Jack van Wyk (linkervleuel) ná ’n gevaarlike duikslag met ’n geelkaart gestraf is.

Buiten sy stewige skrumwerk kon die tuisspan in die eerste veertig minute nie veel teen ’n begeesterde Swellendam regkry nie en hy moes met ’n enkele onverdoelde drie tevrede wees.

Ná rustyd het Villagers egter sy vinger getrek en begin terugveg. Sy terugvegpoging is met ’n verdoelde drie van stapel gestuur. Ná hierdie sewepunter was hy net ’n enkele punt agter Swellendam toe die telling 13-12 geword het.

Minute later is ’n Swellendam-speler vir ’n opsetlike aanslaan met ’n geelkaart gestraf.

Villagers het besluit om kantlyn toe te skop. Danksy Bernard Swarts (plaasvervanger-flank/slot) het die tuisspan in die lynstane beter gevaar. Villagers het ’n goeie lynstaanbal gekry en ’n dryfmaalbeweging aan die gang gesit, wat met ’n onverdoelde drie afgerond is.

Die gang van die wedstryd het hierna in Villagers se guns begin swaai toe hy na dié drie vir die eerste keer in die wedstryd die voortou geneem het met die telling 17-13.

Swellendam was egter deurentyd mededingend en het hierna ’n hewige aanslag begin, wat tot ’n strafskop in Villagers se kwartgebied gelei het. Ongelukkig het die besoekers die maklike strafdoelpoging verbrou.

Maar nie lank hierna nie het hy weer ’n geleentheid pale toe gekry.

Hierdie keer het hy die strafskop tussen die pale deurgestuur en sy agterstand tot ’n enkele punt verklein. Die telling het na 17-16 aangeskuif, Villagers steeds ’n kortkop voor.

Mettertyd het Villagers egter beter gespeel en nog twee onverdoelde drieë aangeteken, waarmee hy ’n stewige greep op die kragmeting gekry het. Hiermee het hy so te sê die wedstryd buite die bereik van die besoekers geplaas.

Die telling het tot 27-16 vir die tuisspan gegroei.

Swellendam is egter geensins hierdeur ontmoedig nie.

Inteendeel, die besoekers het toe net meer veggees gewys. Sy onblusbare drang om te wil wen, het hom in staat gestel om in die doodsnikke van dié titaniese stryd nog ’n verdoelde drie te behaal.

Die uurglas het egter vir hom leeggeloop en die eindtelling was 27-23 in die tuisspan se guns.

Villagers het behoorlik klippe gekou vir dié waardevolle bonuspuntsege.

Dié oorwinning het hom weer in die vierde posisie op die Grootuitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langebergstreek geplaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article