MONTAGU. – Die Grootuitdaagbeker-kragmeting tussen Villagers Montagu en Rangers Robertson op die King Edward-sportterrein in Montagu die afgelope Saterdag (3 Augustus) was ’n betreklike gelykopstryd, met die uitslag wat eers in die doodsnikke van die wedstryd bepaal is.
Villagers het die klipharde stryd, waartydens die telling nie minder nie as vier keer gelykop was (7-7, 10-10, 17-17 en 24-24), uiteindelik met 34-24 gewen.
Hoewel Rangers blitsvinnig uit die wegspringblokke was en die voortou reeds in die tweede minuut van die wedstryd met ’n verdoelde drie geneem het, kon hy egter nie op sy goeie begin voortbou nie.
Namate die wedstryd gevorder het, het die spanne om die beurt punte aangeteken, maar sonder dat een van die twee ’n werklike houvas op die wedstryd kon kry.
Nietemin was die rustydtelling 24-17 in die tuisspan se guns.
Rangers het in die skrums gesukkel, maar ondanks sy geswoeg in dié faset het hy botweg geweier om bes te gee.
Aan die ander kant het Villagers homself byna in die voet geskiet toe hy vir twintig minute met minder manne moes speel nadat twee van sy spelers in afsonderlike voorvalle weens ontoelaatbare spel deur die skeidsregter van die veld gestuur is.
Die tuisspan het egter vasgebyt en teen die einde van die kragmeting, ná ’n verwoede aanslag in die laaste oomblikke van die titaniese stryd, met ’n verdoelde drie die wedstryd verseël.
Villagers het vier drieë aangeteken, wat aan hom ’n bonuspuntsege besorg het. Verder het hy ook met twee strafdoele geslaag.
Rangers, wat getrou aan sy noemnaam, Never Die, strykdeur hardnekkig bly veg het, het op sy beurt drie keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier en ook ’n strafskop deur die pale gejaag.





