Alle paaie het Saterdag 12 Maart van Worcester na Proteapark in De Doorns gelei, waar Worcester Villagers (Villa) in sy jaarlikse kragmeting teen die tuisspan Proteas (“Prouks”, in die volksmond) om die Bernard Marran-herdenkingstrofee meegeding het.
Met hierdie trofee word hulde gebring aan die skitterende losvoorspeler van weleer, Bernard Marran. Marran het sy lewe op ’n tragiese wyse op 30 Augustus 1996 in ’n ligawedstryd in Ashton tussen Ashton United en Worcester Villagers verloor. Wat hierdie gedenkwaardige wedstryd nog meer kleur gee, is die feit dat wyle Bernard, voordat hy en sy broer – die bekende politieke aktivis en Wes-Kaapse lid van die parlement Pat Marran – vir Villa gespeel het, hulle eers vir Proteas gespeel het.
Vanjaar se wedstryd het soos voorheen groot belangstelling gelok en lank voor die aanvang van die eerste wedstryde tussen die twee spanne se derde spanne, was die veld reeds stampvol gepak. Heerlike hardlooprugby het boonop veroorsaak dat die skare sommer lekker deel van die opwinding was.
Villa het sommer van meet af aan die pap lekker dik aangemaak en met volgehoue druk ook die telbord aan die rol gekry toe sy skrumskakel, Chris Daniels, met ’n stukkie briljante spel vorendag gekom het. Toe hy voorgekeer word, was die heelagter, Larren Buys, by om af te rond. Hy het self verdoel om Villa 7-0 te laat voorloop. Proteas het kort hierna teruggeslaan toe sy binnesenter, Tersius Noble, met ’n strafskop slaag. Buys het egter Villa se voorsprong vergroot nadat hy met ’n blitsige skepskop geslaag het.
Prouks het hard teruggeslaan toe sy skrumskakel, Rowan de Vlam, die verdediging aan die slaap betrap en ná ’n vinnige tikskoppie gaan druk het. Villa het op Prouks se doellyn geboer en met skitterende skrumwerk is sy agsteman en kaptein, Edward Haas, oor. Buys kon ongelukkig nie verdoel nie.
Die tuisspan het sterk in die prentjie teruggekom toe die flank Christian Snygans vir ’n onvervyfde drie oor is en die telling na 15-13 in Villa se guns gestyg het. Kort voor rustyd het Noble met ’n strafskop geslaag om Proteas met rustyd 16-15 te laat voorloop.
Ná rustyd en met talle vars bene op die veld het Villa weer die neus voor gekry toe die slot Jannaville Mentoor oor is (telling 20-16). Hierna het Prouks se buitesenter, Keenan Jacobs, gedruk en Noble verdoel om Proteas 23-20 te laat voorloop. Met die uurglas wat leegloop, is die plaasvervangerstut met brute krag oor om Villa ’n welverdiende dog naelskraapse oorwinning van 25-23 te verseker.
Aan Villa se kant was sy lostrio – Jason Wehr, Sabelo Dlamini en Haas – kookwater en veral die plaasvervanger-flank Wayde du Plessis op sy skitterende beste, en Buys het ook sy kant gebring.
Aan Prouks-kant was sy heelagter, Terrence Ludick, goed op dreef terwyl dié span ook swaar op die skopskoen van Noble staatgemaak het. ’n Groot bron van kommer is egter die feit dat veral Villa se skoppers taamlik wisselvallig was.
In die hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Prouks B 29-0 geklop terwyl Villa se derdes 12-10 gewen het om die uitstappie ’n driekuns te maak.V Hierdie naweek gaan Villa op ’n oefenkamp terwyl Villa Saterdag 26 Maart op Bolandpark teen Montagu Villagers te staan kom.


