Melvin Julies (buitesenter) van Worcester Villagers met die rooi trui aan hardloop met die bal en probeer ’n Persie-speler af skud.Foto:Alisen Plaatjies

Credit: SYSTEM

Worcester Villagers het Saterdag tuis op Bolandpark vir Worcester Perseverance met 43-12 verslaan, nadat hulle teen rustyd slegs met 12-7 voor was.

Persies het met ’n fris windjie in hul guns afgeskop en sommer reg aan die begin probeer om hul stempel op die wedstryd af te druk.

Dit was egter die linkervleuel Juan Williams wat die telbord aan die rol gesit het toe hy ’n bal wat losgespat het vorentoe geskop het, en in die doelgebied toegeval het.

Austin Hendricks (losskakel) se doelskop het egter links verby getrek.

Hierna het Wayne Plaatjies (regtervleuel) ’n drie gaan druk, en Hendricks suksesvol oorgeskop en die telling na 12-0 opgestoot.

Kort voor rustyd het Brendon Doring (buitesenter) skitterend uitgebreek, en ’n drie gedruk onder die pale wat Jacquin Jacobs (heelagter) verdoel het om die telling 12-7 in die tuisspan se guns te maak.

Persies is intussen ’n gevoelige slag toegedien toe die span se regtervleuel, Dillon Williams, en hul losskakel, Nazeem de Sousa, albei met bloukaarte vir vermoedelike harsingskudding die veld moes verlaat.

Ná rustyd het Villa verwoed aangeval, en Henrico Jacobs (buitesenter) oorgegaan vir ’n drie wat Adeeb Isaacs (plaasvervanger-losskakel) verdoel het en die telling na 19-7 laat groei het.

Hierna het Shandro Issel (binnesenter) uitgebreek, en ’n drie gedruk wat Jadrien de Klerk (plaasvervanger-heelagter) verdoel het.

’n Strafdrie ná volgehoue druk met veral losvoorspelers Mario Marinus, Sergio van Rhyn en Edward Haas op hul allerbeste, het gevolg, wat geweldige druk op hul opponente toegepas het.

In volle beheer slaan Villa weer toe, toe Morné Mastriet (heelagter), wat intussen na linkervleuel verskuif het, vir ’n onverdoelde drie oorgegaan het en die telling verder na 39-7 opgestoot het.

Ná nog druk het Mansoer Karrie (plaasvervanger slot) oorgegaan vir ’n drie wat Isaacs egter nie kon verdoel nie.

Persies wou egter nooit sy bes gee nie, en is beloon met ’n troosdrie toe Chandrau Jeftha (plaasvervanger vleuel) oorgegaan het vir ’n drie wat Jacobs ook nie kon verdoel en die eindtelling na 43-12 opgestoot het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article