Ná drie agtereenvolgende nederlae verlede seisoen teen die Young Hamiltons, het Worcester Villagers (A-span) die eerste van vanjaar se derbies, die gewilde Easter Clash, voor ’n hele paar duisend entoesiastiese sportmal-toeskouers 20-12 gewen nadat hy teen rustyd 12-7 voorgeloop het.
Hierdie reeks wedstryde op Paas-Saterdag (gewoonlik reg aan die begin van die liga), het die afgelope jare in gewildheid toegeneem en duisende rugbyondersteuners pak gewoonlik die stadion vroegdag reeds vol om deel te wees van die opwindende rugby wat jaar ná jaar op die spyskaart is.
Hammies het aanvanklik met ’n geweldige aanslag begin en wou sommer vroeg-vroeg sy stempel op die wedstryd afdwing.
Dit het vrugte afgewerp toe Chris Phillips (buitesenter) ná volgehoue druk oorgegaan het vir ’n drie wat Luciano (Lucky) Truter (losskakel) verdoel het om die Bloutruie 7-0 te laat voorloop.
Villa, met sy magdom jong spelers, het die aanslag skitterend die hoof gebied en binne minute tot eie reg gekom toe hy die aanslae met teenaanvalle uitgekanselleer het.
Shane Pietersen (losskakel) het ’n drie gedruk, maar Javian de Klerk (heelagter) kon dit nie verdoel nie.
Daarna was Chris Abrahams (slot) en Greyling Geldenhuys (haker en kaptein) asook Nathan Satera (agsteman) aan die spits saam met die buitesenter Enrico Jacobs vir ’n drie wat De Klerk verdoel het om Villa teen halftyd 12-7 te laat voorloop.
Villa het sy voorsprong kort ná rustyd verder gerek toe Freek Mallies (plaasvervanger-losskakel) met ’n netjiese strafskop geslaag het ná blatante vuilspel deur een van Hammies se spelers.
Die skeidsregter, Piet Swarts, het ná verskeie onderonsies twee geelkaarte aan Hammies en een aan Villa uitgedeel, wat meegebring het dat die wedstryd in baie goeie gees voortgesit is.
Villa het sy voorsprong verder vergroot toe Gurshwin Joubert (plaasvervanger-skrumskakel) gaan druk het. Stephan Eksteen (plaasvervanger-heelagter) se doelskop was onsuksesvol en het rakelings links verby getrek.
Kort hierna het Hammies verwoed aangeval en Truter het ná ’n volle agterlyn-beweging in die hoekie oorgegaan. Die drie is egter nie toegeken nie omdat die bal vroeër vorentoe aangegee is.
Hammies is later wel beloon toe Bevan Malapi (flank) danksy ’n stormram-lopie oorgegaan het om die eindtelling op 20-12 te staan te bring.
Hierdie komende naweek begin Villa met sy liga-aanspraak wanneer die span op Bolandpark teen Ashton United te staan kom terwyl Young Hamiltons teen Montagu Villagers in die King Edward-stadion in Montagu speel.




