Worcester-Villagers het Saterdag in ’n opwindende dog senutergende wedstryd die Newton Bombelas in ’n byna volgepakte Boland-stadion naelskraaps geklop.
Hierdie wedstryd was die eerste van die Top-12-toernooi wat oor die volgende paar weke strek.
Worcester-Villagers het Newton vroeg in die wedstryd onder druk geplaas met aggressiewe voorspelerspel en by tye onwettige skrumstrategie.
Newton het egter eerste bloed geruik met twee strafskoppe deur sy losskakel, Ryan Jordaan, en het skielik 6-0 voorgeloop. Villagers het egter teruggeslaan met ’n opportunistiese drie nadat die Newton-agterspelers nie ’n hoë bal kon beheer nie. Hierna het Villagers ’n strafdrie gekry en was 14-6 voor. Net voor rustyd het hulle weer agter die pale gaan kuier en kon gaan rustyd hou met ’n gerieflike voorsprong van 19-6.
Newton moes diep delf om die agterstand uit te wis, maar hul terugvegpoging het op dramatiese wyse begin nadat hulle met ’n geelkaart gestraf is en noodgedwonge met 14 man moes speel. Hulle het egter almal verras en ’n blitzkrieg van drieë gedruk.
Eers het die skrumskakel, Chad Williams, vinnig getik en oorgeduik vir ’n drie en daarna het Maxwell van Louw (senter) afgerond nadat Shane Cole (senter) pragtig gebreek het. Hierna het Curran van Diemen (stut) met brute krag oor die doellyn gebars en die Newton-skare het gekraai van lekkerte. Die telling was skielik 23-19 in die Bombelas se guns, maar toe volg die drama.
Villagers het teruggeslaan met ’n drie in die hoekie en die wipplankstryd het nou ’n naelbytstryd geword met die telling 28-23 in Villagers se guns.
Newton het aanval ná aanval van stapel gestuur en Villagers moes keer vir die vale.
Newton het by twee geleenthede oor die doellyn gegaan, maar die skeidsregter het nie die drieë toegeken nie. Newton het egter nie gaan lê nie en hul teenstanders in die grond geboor met brute kragspel en vernuf deur sy bakgat agterspelers.
Die Villagers-damwal moes breek nadat die agterlyn pragtig hanteer het en die spoedvraat Keaton Booysen (vleuel) met ’n netjiese drie in die hoekie afgerond het. Wilfred Bowers (losskakel) kon egter nie met die doelskop slaag nie en Worcester-Villagers het die wedstryd 29-28 gewen. Villagers se Cubitt Michails was die top-puntemaker van die dag met nie minder as drie drieë nie.





