Saterdag 9 April het Hawston – of Skrik vir Niks soos hy alombekend is – op Bolandpark gewys dat daar nog heelwat werk op Worcester Villagers (Villa) se afrigterskorps wag voordat die amptelike Boland-ligas op 23 April afskop.
Die span van Hawston het die tuisspan 36-22 afgestof nadat die besoekers teen rustyd met 22-19 voor was. Hawston, met sy swaarder pak voorspelers, het sommer in die derde minuut bloed geruik toe die losskakel Roland Swarts met ’n strafskop slaag nadat hulle op die tuisspan se doellyn tent opgeslaan het. Villa slaan hard terug toe die linkervleuel Eashaar van der Merwe ná omgekeerde balbesit gaan druk en die losskakel Austin Hendricks verdoel. Hendricks moes egter kort hierna die veld met ’n besering verlaat en is vervang met die veelsydige Larren Buys op losskakel.
Hawston kry hierna punte toe die agsteman Francois Geduldt oorgaan vir ’n onverdoelde drie. Villa neem egter weer die voortou toe die slot Curtley Timm ná volgehoue druk gaan druk. Die voorsprong word egter weer uitgewis toe Hawston se kaptein en flank, Brendon Hunter, gaan druk en Swarts verdoel. Timm gaan egter hierna met brute krag oor en Buys verdoel om Villa ’n 19-15 voorsprong te laat geniet.
Kort voor rustyd loop dinge egter vir Villa lelik skeef toe die Hawston-regtervleuel Wesley Spandiel onderskep en nael om onder die pale te gaan druk. Swarts se geslaagde doelskop laat die Overbergers met 22-19 voor, voor hulle gaan water drink.
Kort ná rustyd tref nog ’n gevoelige slag Villa toe sy slot, Morné Boshoff, en Hawston se plaasvervangerstut Tenner van Tonder albei met rooikaarte van die veld gestuur word ná ’n onderonsie.
Hierna rek Hawston sy voorsprong na 29-19 toe Geduldt vir sy tweede drie oorgaan en Swarts verdoel. Buys slaag hierna met ’n skop om die telling na 29-22 te laat krimp. Hawston het egter die laaste sê toe Spandiel kort voor die einde vir sy tweede drie oorgaan en Swarts verdoel om vir die besoekers ’n 36-22-oorwinning te verseker.
In ’n eensydige tweedespanwedstryd klop Villa se naasbestes Hawston met 50-0 terwyl Villa se derdes met 10-3 aan die wenkant was.V Komende Saterdag speel Villa se A-span in die hoofwedstryd van die Easter Challenge teen sy bure Hammies se A-span, Primrose en Alberts sal ook in die toernooi te siene wees.

