Hier is Willsley Banies van Worcester Villagers onstuitbaar in hul kragmeting teen Ceres.Foto: Herman Snyman


In aanloop tot die Groot Uitdaagliga wat op 8 Maart amptelik begin, het Worcester Villagers in ’n opwindende vriendskaplike wedstryd Saterdag 22 Februarie by die Victoriapark-stadion in Ceres teen Ceres RVK net-net met 40-38 die onderspit gedelf – nadat die tuisspan teen rustyd reeds met 26-5 voor was en met 10 minute verby in die tweede helfte boonop met 40-5 voorgeloop het.

Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop, met die tuisspan met sy swaarder pak voorspelers en vlugvoetige agterspelers wat vroeg die oorhand oor sy opponent, Villa, wou kry. Dit was egter Villa wat eerste punte op die telbord gekry het toe sy nuwe aanwins en spoedvraat Dwayne Atkins na ’n skitterende lopie die tuisspan oorhoops gehad het. Toe hy voorgekeer word, was die heelagter, Jadrian de Klerk, by om af te rond. De Klerk kon egter nie sy eie drie verdoel nie. Ceres slaan hierna hard terug toe sy regtervleuel, Janco Swart, deurgaan vir ’n drie en William van Wyk, losskakel, verdoel. Die telling groei na 14-5 toe Shaun Thompson, linkervleuel, deurgaan vir sy eerste van drie drieë en Van Wyk verdoel.

Die telling groei verder na 19-5 toe Francois Adam, flank, ’n onvervyfde drie gaan druk. Die rustydtelling word 26-5 toe Thompson vir sy tweede drie oorgaan en Van Wyk weer verdoel.

Ná rustyd duur die treurmare voort en kry Ceres weer punte toe Keenan Fredericks, slot, oorval vir ’n drie en Van Wyk weer met die doelskop slaag. Kort hierna volg ’n solo-lopie van Thompson van goed 60 m nadat hy ’n bal onderskep in wat ’n Villadrie sou kon wees. Met Van Wyk se geslaagde doelskop loop Ceres nou 40-5 voor.

Toe begin ’n terugveg-poging wat selfs stoere Ceres-ondersteuners verbaas het. Eers gaan Villa se woelige flank, Mario Marinus, in die hoekie oor vir ’n drie wat die plaasvervanger-skrumskakel, Gurshwin Africa, verdoel. Kort daarna gaan Atkins oor vir ’n drie wat Africa ook skitterend uit die hoek verdoel om die agterstand na 19-40 te laat krimp. Kort hierna gaan Andries de Kock, vaskopstut, met brute krag oor en met Africa wat verdoel, krimp die agterstand na 26-40. Hierna volg ’n blitzkrieg van twee drieë in net soveel minute deur nog ’n nuwe aanwins –Tyller May, vleuel en voormalige Rangersspeler. Africa kon ongelukkig net een hiervan verdoel en die wedstryd eindig met 40-38 in die tuisspan se guns.

In ’n opwindende hoof-voorwedstryd klop Ceres se naasbestes Villa B met 14-5, terwyl Villa se derde span bo was met 14-3.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article