Nadat Worcester Villagers-rugbyklub in die eerste ronde van vanjaar se Groot Uitdaagkompetisie van die Boland-rugbyunie se Breë/Langeberg-afdeling in Swellendam met 20-26 vasgeval het, was die verwagtinge onder ondersteuners dat hul span op Bolandpark die bordjies die afgelope Saterdag (27 Augustus) sou verhang.
Swellies, soos hulle bekendstaan, het egter vriend en vyand verras deur die tuisspan met 30-26 te verslaan, nadat hulle teen rustyd met 15-14 voorgeloop het.
Hiermee het hul ook Villa se geringe kans om onder die topspanne te eindig, finaal gekelder.
Die wedstryd self het teen ‘n geweldige tempo afgeskop met Swellies wat sommer vroeg-vroeg sy stempel afgedruk het. Hulle het eerste punte aangeteken toe skrumskakel Oswill Nortje steelkant omgebreek en in die hoekie oorgeduik het.
Losskakel Ammizen Jansen se doelskop was egter mis.
Villa het hierna twee geleenthede gekry om hul rekeninge te open maar albei die pogings van losskakel Adeeb Isaacs kon nie die teiken haal nie.
Swellies het hierna hul voorsprong gerek toe agsteman Wilfred Jacobs langs die pale oorgeval en Jansen verdoel het om die telling 12-0 te maak. Kort hierna het die telling na 15-0 gerek toe Jansen, ook met ‘n netjiese strafskop, nog punte bygevoeg het.
Villa, nou behoorlik wakker geskud, het hierna ‘n sewepunter toe gekry toe agsteman Edward Haas na volgehoue druk oorgegaan en Isaacs verdoel het. Linkervleuel Cubitt Michaels het hierna in die hoekie oorgegaan na ‘n volle agterlynbeweging en met Isaacs wat pragtig uit die hoek verdoel het, het die agterstand teen rustyd na 14-15 in die besoekers se guns gekrimp.
Kort na rustyd, het Swellies hul voorsprong weer gerek toe Jansen met ‘n blitsige skepskop geslaag het. Villa het hierna verwoed aangeval, maar dinge het lelik vir die tuisspan skeefgeloop toe die besoekers se buitesenter Handre Buys onderskep het en 70 m genael het om onder die pale te gaan afrond.
Met Jansen se doelskop ‘n blote formaliteit, het die telling aangeskuif na 25-14. Kort hierna het slot Apiwe Nsukumbeni oorgegaan vir die besoekers se vierde en bonusdrie.
Alhoewel Jansen se doelskop onsuksesvol was, het Swellies met 30-14 voorgeloop.
Villa het hierna met ‘n verbete aanslag gekom om hul eer te red. Eers is Michaels na ‘n skitterlopie kort voor die lyn gestuit. Toe het plaasvervanger-skrumskakel Cullen Timm slim steelkant omgebreek en plaasvervanger-flank Bradman Grove gevoer, wat in die hoekie oorgeduik het.
Heelagter Austin Hendricks het boonop skitterend uit die hoek verdoel om die agterstand na 21-30 te laat krimp.
Behoorlik aangevuur, het regtervleuel Givan Adams-Sas na ‘n volle agterlynbeweging in die hoekie oorgegaan vir Villa se vierde en bonusdrie. Hendricks se doelskop was egter net-net regs verby.
Ten spyte van ellelange verduidelikings deur skeidsregter Williams van die Swartland wat baie tyd in beslag geneem het, het dit geensins afbreek aan die manier gedoen waarop die besoekers die aanslae van Villa meestal met sukses geabsorbeer en terug betaal het nie.
In die hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Swellies se B-span met 18-5 geklop, terwyl die derdespanne met 17 elk gelykop gespeel het.
Komende Saterdag reis Villa na Montagu waar hulle Montagu Villagers (6 Duim) op die King Edwardstadion gaan pak.



