Villas het Saterdag behoorlik rede gehad om fees te vier toe hy sy aartsvyande Hammies met 43-37 geklop het.Foto: Stephan Neethling


Worcester Villagers het Saterdag op Bolandpark gewys waarom hy ’n sterk kandidaat is om liga-louere in vanjaar se Langeberg-afdeling van Boland Rugbyunie in te oes toe hy sy bure Young Hamiltons (Ham­mies) met 43-37 in ’n opwinden­de Grootuitdaagwedstryd getroef het.

Met hierdie wedstryd en met Villa wat teen rustyd met 24-20 voorgeloop het, het die telbord behoorlik wipplank gery en met skitter-rugby wat deur albei spanne opgedis is, het die meer as 10 000 opgewonde ondersteuners van albei spanne oorgenoeg waarde vir hul geld gekry.

Hammies het aanvanklik met doelgerigtheid sy stempel vroeg-vroeg op die wedstryd probeer afdwing. Dit was egter die tuisspan, Villa, wat eerste die telbord aan die rol gesit het toe die losskakel, Austin Hendricks, met ’n netjiese strafskop slaag.

Hammies had ’n sewepunter toe die veteraan-agsteman en oud-Villaspeler Whalied Heyns oorgaan vir ’n drie wat die losskakel, Usiel Langeveldt, verdoel vir ’n 7-3 voorsprong.

Die telling groei kort hierna aan na 10-3 toe die einste Langeveldt met ’n blitsige skepskop slaag. Villa se Hendricks maak weer sake gelykop toe hy langs die pale oorgaan vir ’n skitterende drie wat hy self verdoel.

Hierna gaan druk Villa se kaptein en agsteman Edward Haas en Hendricks verdoel vir ’n 17-10 voorsprong.

Maar sake word weer gelyk toe Heyns vir sy span se tweede drie oorbars en Langeveldt verdoel. Met die telling op 17 elk breek die skrumskakel, Gurshwin Africa, skerp, en toe hy voorgekeer word, was die regtervleuel, Givan Adams, by om in die hoekie oor te gaan.

Hendricks verdoel boonop skitterend om Villa met 24-17 teen rustyd te laat voorloop. Kort ná die afskop van die tweede helfte breek Africa weer skitterend en gaan onder die pale oor vir ’n drie wat Hendricks ook verdoel vir ’n 31-20-voorsprong.

Hammies gee egter nooit bes nie en antwoord met ’n drie deur Ashwill Klein, wat die plaasvervanger-losskakel Nazeem de Sousa ongelukkig nie kon verdoel nie.

Met die telling nou op 31-25 kry Hammies die neus weer voor toe die flank Philbrey Joseph oorgaan vir ’n drie en die plaasvervanger-heelagter Luciano Truter verdoel om die telling na 32-31 in Hammies se guns te neem.

Villa neem weer beheer toe die plaasvervanger-buitesenter Eushaan van der Merwe skitterend breek en gaan afrond. Ná die heelagter, Jarian de Klerk, se suksesvolle doelskop loop Villa met 38-32 voor. Die telling rol aan na 43-32 toe die linkervleuel, Cubbitt Micheals vir ’n onvervyfde drie oorgaan.

Met die uurglas wat nou vinnig leegloop, kom Hammies met ’n verbete aanslag wat uitloop op ’n drie deur die plaasvervanger-skrumskakel Josh Williams en die eindfluitjie blaas op 43-37 vir Villa.

Met dié sege beklee Villa nou die tweede plek op die punteleer met 26 punte met voorlopers Robertson Town bo-aan die punteleer met 30 punte.

Hierdie naweek meet hierdie twee spanne juis in die Van Zylstraatstadion in Robertson kragte en is daar daarom genoeg rede vir rugbygeesdriftiges om in hul hordes na Robertson op te ruk.

In ’n spannende hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes vir Hammies B met 18-14 om sodoende ook hul onoorwonne status te behou terwyl Villa se derdes met 9-6 bo was om dit drie uit drie vir die tuisspan te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article