Carick Kustoor van Villa systap Ashton United se verdedigers voor sy drie in sy eerste wedstryd vir Worcester Villagers. Foto: Theswill Baartman


Worcester Villagers (Villa) het Saterdag 29 Junie op Bolandpark in Worcester seker gemaak van maksimumpunte toe hy Ashton United (Unies) met 46-26 geklop het. Dit nadat Villa teen rustyd reeds met 22-5 voor was.

Die wedstryd het vir heelwat opwinding gesorg. Alhoewel Villa teen die einde gerieflik gewen het, het Unies tot die einde kompeterend meegeding.

Unies het sommer vroeg voorgeloop toe ’n belowende beweging van Villa in die opponente se gebied lelik skeefgeloop het. ’n Bal wat losgespat het, is opgeraap deur die regtervleuel, Granville Matthys, wat 70 m ver afgesit het doellyn toe sonder dat ’n hand op hom gelê is. Die vervyfskop deur die losskakel, Mickle Snyders, is egter verbrou.

Villa slaan kort hierna terug toe ’n debutant in die A-span, die 19-jarige Carick Kustoor, gaan afrond nadat hy verskeie teenstanders klop. Met die suksesvolle doelskop deur die losskakel Austin Hendricks herwin Villa die voortou met ’n 7-5 voorsprong. Villa vergroot hierna sy voorsprong toe die haker, Johannes Geldenhuys, ná ’n dryfmaal-beweging oorgaan vir ’n onvervyfde drie. Kort hierna bars die agsteman en kaptein, Edward Haas, oor vir nog ’n onvervyfde drie. Kort voor rustyd kry Villa sy vierde en ook bonuspunt-drie toe die oud-Bolandspeler Wendal Wehr sy pad oopvlek doellyn toe om sy terugkeer tot sy ou span met ’n skitterdrie te vier. Ook hierdie doelskop was egter onsuksesvol.

Vroeg in die tweede helfte kry die buitesenter, Eushaan van der Merwe, Villa se vyfde drie ná volgehoue druk. Ook hierdie doelskop is nie suksesvol nie.

Unies gee nooit bes nie en word beloon met ’n sewepunter toe die linkervleuel, Shaavin du Plessis, in die hoekie oorgaan en die heelagter, Lorenzo de Wee, skitterend verdoel. Villa vergroot egter weer sy voorsprong toe Hendricks oorgaan en die skrumskakel, Gurshwin Africa, met die doelskop slaag.

Unies kry hierna weer ’n sewepunter toe die slot Zinbethani Twezi oorgaan en De Wee verdoel. Villa se sewende drie volg hierna toe die linkervleuel, Kevin-Shane Filander, oorgaan vir ’n onvervyfde drie. Unies kry hierna sy vierde en bonuspunt-drie toe die plaasvervanger flank, Jonathan Meyer, oorgaan vir ’n drie en De Wee verdoel. Villa slaan hard terug toe Africa oorgaan en boonop self verdoel om die eindtelling op 46-26 in die guns van die tuisspan te bring.

In ’n voorwedstryd klop Villa se naasbestes Unies met 15-10, terwyl die derde span van Villa met 17-15 bo was.

Saterdag 6 Julie reis Villa na Montagu waar hulle op die King Edwardstadion teen Montagu-klub te staan sal kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article