Die afgelope Saterdag (12 Augustus) het Worcester Villagers weer eens bewys dat hulle op enige gegewe tyd saam met die groot honde kan blaf toe hulle op hul tuisveld, Bolandpark in Worcester, een van die pasaangeërs in die Langeberg-afdeling se groot uitdaag-kompetisie in ’n senutergende wedstryd met 26-20 die loef afgesteek het.
In die proses het hulle ook ’n bonuspunt verwerf om hul posisie op die punteleer te verbeter.
Die wedstryd het vir heelwat opwinding gesorg, met Bonnievale Blue Birds wat aanvanklik met verwoede aanvalle ’n houvas op die wedstryd wou afdwing.
Die besoekers kry dan ook sommer vroeg kans om hul rekening te open, maar hul linkervleuel, Leyton Davids, se strafskop-poging trek net-net links verby.
Hierna skrik Villa wakker. Hoewel hulle teen ’n sterk wind moes speel, pen hulle die opponente behoorlik met veral stewige skrumwerk en volgehoue druk vas.
Een so ’n skrum loop uit op ’n drie deur Nathan Pedro (flank), maar Girshwin Joubert (losskakel) se doelskop-poging word egter afgestorm.
Kort hierna open die Blue Birds wel hul rekening toe Elton Mfundisi (losskakel) met ’n netjiese strafskop slaag.
Villa slaan egter hard terug toe die linkervleuel, Cubitt Micheals, ná ’n volle agterlyn-beweging oorgaan. Met Joubert se geslaagde doelskop loop Villa teen rustyd met 12-3 voor.
Ná rustyd en met ’n fris windjie in hul guns, val Villa die opponente se doellyn met reëlmaat aan. Een so ’n beweging loop egter lelik skeef toe ’n bal losspat en Davids (linkervleuel) dit oppik en gaan druk.
Met Mfundisi se geslaagde doelskop krimp die agterstand na 12-10 in Villa se guns.
Dit was egter Villa wat die verdediging met verskeie aanvalle tot die uiterste beproef. Eers breek Shando Issel (binnesenter) skitterend, maar word ’n tree van die doellyn met puik kruisverdediging gestuit. Kort hierna is Morné Mastriet (heelagter) op pad doellyn toe, toe hy kort voort die lyn uittrap.
Villa pas egter genadeloos druk toe en met puik skrumwerk word ’n strafdrie toegeken wat die telling na 19-10 vergroot.
Villa word egter ’n gevoelige slag toegedien toe sy flank, Sergio van Rhyn, vir ’n gevaarlike duikslag met ’n rooikaart gepos word. Kort hierna laat krimp Birds die agterstand toe Davids met ’n netjiese strafskop slaag.
Die plaasvervangerslot, Kyle Jacobs, sorg egter vir Villa se bonuspuntdrie toe hy langs die pale oorduik. Joubert verdoel om die telling na 26-13 te rek.
Issel word toe ook met agt minute speeltyd oor met ’n geelkaart gestraf en met slegs 13 spelers moes Villa vir ’n vale keer.
Damian May (haker) gaan vir Birds oor en met Mfundisi se geslaagde doelskop eindig die wedstryd 26-20 in Villa se guns.


