Worcester Villagers het Saterdag (31 Augustus) op sy tuisveld, Bolandpark, seker gemaak dat hy sy voorlaaste wedstryd op ’n hoë afsluit toe hy die besoekers, Blue Birds van Bonnievale, in ’n wedstryd, wat nie minder as 15 drieë opgelewer het nie, met 60-38 geklop het nadat hulle teen rustyd met 24-17 voor was.
Villa, wat teen ’n windjie begin het, het in die eerste minuut bloed geruik toe sy kookwater-flank Mario Marinus ná volgehoue druk onder die pale oorgaan en sy losskakel, Austin Hendricks, met die doelskop slaag vir ’n 7-0-voorsprong.
Die telling groei kort hierna na 12-0 in die tuisspan se guns aan toe sy heelagter, Jonathan Jordaan, in die hoekie vir ’n drie oorgaan.
Blue Birds gee nooit bes nie en kry self ook sy eerste punte op die telbord toe sy linkervleuel, Lleyton Davids, ná ’n oortreding met ’n netjiese strafskop slaag.
Villa ruk hom reg en ná herhaalde aanvalle gaan sy binnesenter, Jarian de Klerk, onder die pale oor. Met Hendricks se suksesvolle doelskop rek die voorsprong na 19-3.
Birds slaan self hard terug toe die einste Davids met ’n praglopie onder die pale oorgaan en self verdoel om die agterstand na 10-19 te laat krimp.
Hierna gaan Jordaan oor vir sy tweede drie, maar Birds slaan egter weer terug toe sy plaasvervanger-buitesenter, Ashley Stephanus, oorgaan en die rustyd telling is 24-17 vir Villa.
Kort ná rustyd breek die losvoorspeler Bradman (Bull) Grove weg en gaan druk om die telling na 29-17 te rek. Villa vergroot sy voorsprong toe sy regtervleuel, Wayne Plaatjies, in die hoek oorval vir ’n onvervyfde drie.
Die telling groei aan na 41-17 toe die skrumskakel, Gurshwin Joubert, onder die pale oorgaan en boonop self verdoel. Kort hierna onderskep Birds se regtervleuel, Curnell Pekeur, ’n beweging deur Villa, wat op ’n drie kon uitloop, en gaan druk.
Die besoekers kry sy bonuspunt-drie toe die agsteman, Durell du Toit, oorgaan en Elton Mfundisi verdoel om die telling op 41-31 te bring.
Villa se plaasvervanger-linkervleuel, Kevin Filander, gaan hierna oor vir ’n onvervyfde drie. Hierna gaan die plaasvervanger-flank, Chris Abrahams, oor en met De Klerk se suksesvolle doelskop rek die voorsprong na 53-31.
Davids kry hierna sy tweede drie vir die besoekers. Met Mfundisi se geslaagde doelskop verander die telling na 53-38.
Die plaasvervanger-skrumskakel, Gurshwin Africa, verseël die wedstryd vir die tuisspan toe hy oorgaan en De Klerk verdoel om die eindtelling op 60-38 te staan te bring.
. In die hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes Blue Birds B met 47-10, terwyl die tuisspan se C-span sy eweknie van Bonnievale met 43-12 getroef het.
Saterdag 7 September lei alle paaie na Esselenparkstadion waar die tuisspan, Young Hamiltons, teen sy bure, Worcester Villagers, in hul tweederondederby sal kragte meet.




