Worcester Villagers het sommer vroeg in die wedstryd sy intensies duidelik uitgespel deur die kampioenspan Safcol vanaf die afskop onder geweldige druk te plaas.

Hulle word dan sommer ook in die derde minuut met ’n strafskop beloon. Maar Safcol slaan onmiddellik terug toe heelagter Nazeem Wood na ’n volle agterlynbeweging oorgaan en losskakel Jurich Claasen verdoel om Safcol met 7-3 te laat voorloop.

Ná nog ’n strafskop vir Villa neem hulle die voortou en hul regtervleuel Juan (Cooper) Williams gaan druk in die hoek.

Villa het die bul stewig aan die horings beet toe Safcol se kaptein Benjamin Dwayi met ’n geelkaart gestraf word met die daaropvolgende strafskop wat die telbord op 14-7 vir Villa bring.

Safcol slaan egter verwoed terug met ’n strafskop en ’n drie.

Kort voor die einde van die eerste helfte, slaag Jarian de Klerk met nog ’n strafskop om sake gelyk te maak met 17 elk.

Kort ná die aanvang van die tweede helfte, val Villa verwoed aan, maar Safcol gaan lê nie en gaan druk agter die pale en die telling skuif na 22-17.

Nou is dit Villa se beurt om agter die doellyn te gaan kuier, met woelwater-flank, Mario Marinus, wat gaan druk en sake is weer gelyk op 22 elk.

Nou vuur Villa op alle silinders en nog ’n drie volg om Villa nou met 27-22 te laat voorloop.

Safcol veg terug en gaan druk, waarna Villa met twee strafskoppe beloon word en Villa loop weer voor met 30-29.

Man van die wedstryd- skrumskakel Gurshwin Africa gaan toe sommer oor vir twee drieë en Villa loop stewig voor met 42-29.

Hoewel Safcol antwoord met nog ’n drie deur Dwayi verseël binnesenter Shandro Issel Safcol se lot toe hy oorgaan en De Klerk verdoel om Villa met 49-34 te laat voorloop.

Africa druk weer, maar na nog ’n verwysing word die drie nie toegeken nie en die eindfluitjie seël Villa se oorwinning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article