’n Villa-speler word deur ’n Sesduim-verdediger gelak tydens dié twee spanne se eerste tweederondewedstryd van die Grootuitdaagbekerkompetisie.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Villagers Montagu, of te wel Sesduim, se twee drieë in die laaste tien minute van die wedstryd was amper soos die laaste stuiptrekkings van ’n wildsbok wanneer sy lugpyp deur die vlymskerp slagtande van ’n leeu deurboor word – hy spartel nog om uit die greep los te kom, maar die oormag is te groot.

Dit is hoe die tuisspan se desperate terugvegpoging op die King Edward-sportterrein in die laaste oomblikke van die Grootuitdaagbeker-kragmeting teen Villagers Worcester, alombekend as Villa, beskryf kan word.

Dit was albei spanne se eerste wedstryd in die tweede ronde van die Grootuitdaagbekerkompetisie wat Saterdag 15 Junie begin het.

Sonder om enige glans van Villa se skitterende vertoning weg te neem, kan egter ook tereg gesê word Sesduim het in ’n mate (drie geelkaarte, verspeelde kanse pale toe en swak verdediging) self tot sy ondergang bygedra.

Die tuisspan het vroeg in die wedstryd minstens twee geleenthede om pale toe te skop vir ’n moontlike ses punte van die hand gewys en eerder die kantlyn opgesoek.

Later in die wedstryd het Sesduim ook met twee mislukte kantlynskoppe (van strafskoppe af) aanvalsgeleenthede op ’n skinkbord aan die besoekers gebied.

In albei gevalle het Villa die bal gevang en met gevaarlike teenaanvalle vorendag gekom, waarmee hy gebiedsvoordeel gewen en Sesduim weer onder druk geplaas het.

Villa het nietemin die telbord met ’n strafdrie aan die rol gesit.

Hoewel dit uit die staanspoor duidelik was dat Villa met niks minder as ’n sege tevrede sou wees nie, was Sesduim tot en met rustyd, toe die telling op daardie stadium 10-5 vir die besoekers was, nog sterk in die prentjie.

Ná die blaaskans was Villa egter in ’n omgesukkelde bui. Hy het die krane wawyd oopgedraai en beheer oor die wedstryd geneem.

Die tuisspan het geen teenvoeter vir die besoekers se besielende spel gehad nie.

Villa het Sesduim stewig aan die keel beetgehad, met die telbord op 27-5 in die besoekers se guns. Die Worcester-span het ook nie skiet gegee voordat hy sy bonuspuntdrie behaal het nie.

Met die skemerte wat oor die King Edward-sportveld begin neerdaal het, die bonuspuntdrie veilig in die sakkie en die wedstryd buite bereik van die tuisspan, het Villa egter konsentrasie verloor. Villa beklink die kragmeting wel oortuigend met 34-15 in sy guns.

In die lig van hoe skeidsregters weekliks onder hewige kritiek deurloop, verdien Muller, die fluitjieblaser, ’n pluimpie vir die wyse waarop hy die wedstryd hanteer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article