Worcester Villagers het Vrydagaand (24 November) in die skoolsaal van Esselenpark Primêr spelers en administrateurs van die klub op gepaste wyse vir hul prestasies en dienste aan die klub vir 2023 vereer.
Dit het gepaard gegaan met ’n spogdinee, heerlike musiek en verskeie gaskunstenaars om die spog-geleentheid verder op te kikker.
Met die alombekende Sebastian Abrahams, oftewel Sir Best, as programdirekteur, wat die spelers en groot aantal lojale ondersteuners wat in groot getalle opgedaag het, met sy pittige sêgoed vermaak het, was die aand ’n reusesukses.
James Fortuin, ’n voormalige munisipale bestuurder en nou uitvoerende hoof van Boland Krieket, was die gasspreker.
Een van Villa se spelers en ’n ou bekende in musiekkringe, Darryl Thomas, ook ’n vurige Villa-ondersteuner’ Hannelie Joseph’, het die gaste vermaak met hul uitsonderlike sangtalente vermaak terwyl die musiekfabriek gaste se voete met hul op-en-wakker-musiekkeuses laat jeuk het.
Onder die spelers wat met trofeë vereer is, is Valdimar Sampson as die beste voorspeler en Girshwin Farao is as die beste agterspeler in die derde span aangewys.
Nathan Pedro en Enrico Daniels is onderskeidelik as beste voor- en agterspeler in die tweede span aangewys.
Edward Haas en Dadrian de Klerk is onderskeidelik as die beste voor- en agterspeler in die A-span aangewys.
Sergio van Rhyn is vir sy enorme bydrae as speler vereer terwyl Romeo Eksteen as Speler van die Jaar aangewys is.
Ander pryse wat oorhandig is, was onder andere aan Zahier Abrahams as die mees toegewyde speler, terwyl die kaptein, Johannes Geldenhuys, as die mees gedissiplineerde speler aangewys is.
Die strydros Serge Uys is as staatmakerstut oor die jare vereer, terwyl Zaydon Adams vereer is as die speler wat in 2023 die beste vordering getoon het.
Kyle Jacobs is as die beste opkomende speler aangewys, terwyl Mark-Anthony Phillipus as Opkomende speler van die Jaar aangewys is.
Wayne Plaatjies het die Drie van die Jaar-toekenning ontvang.
Zingitwa Nathan Anela is vereer vir sy opname in die Wes-Kaapse Korrektiewe Dienste-span (boonop as kaptein) asook sy insluiting in die nasionale span.
Dit was egter die spelers se keuse van Speler van die jaar asook Sportman van die jaar wat seker die grootste applous uitgelok het toe die skitterende losvoorspeler van Villa, Mario Marinus, aangewys is.
Pastoor James Davids is vereer as geestelike leier van die klub terwyl Piet Hermanus as administrateur van die jaar beloon is.


