Villas se skrumskakel, Chris Daniels Probert, soek ’n gaping terwyl hy omsingel is deur ’n horde Protea-spelers wat op.hom toesak.Foto:


Worcester Villagers kon Saterdag in ’n wedstryd vol drama net-net nie daarin slaag om die Bernard Marran- gedenktrofee, wat hy verlede seisoen verower het, suksesvol te verdedig nie en moes met ’n gelykop-uitslag van 32 elk teen sy bure Proteas in De Doorns tevrede wees.

Hierdie wedstryd word jaarliks tussen die twee groot uitdaag­klubs van die Langeberg-streek in die Boland gespeel om hulde te bring aan wyle Bernard Marran, wat sy lewe in 1996 tragies in Ashton in ’n ligawedstryd tussen die tuisspan Ashton United en Worcester Villagers verloor het.

Die wedstryd, voor ’n groot skare opgewonde ondersteuners van albei spanne, het sommer vroeg-vroeg groot opwinding opgelewer toe die kaptein en flank van Villa, Greyling Geldenhuys, met die afskop ’n skitterende lopie ingekry en eers kort voor die opponente-lyn gestuit is. Proteas, of Prouks, soos hy alom bekendstaan, het self hard teruggeslaan toe die veteraan-buitesenter Shaun Jones kort voor Villa se lyn met skitterende dekverdediging platgetrek is. Villa het wel punte gekry toe Gelden­huys se flankmaat, Mario Marinus, sterk breek, en toe hy voorgekeer word, was die einste Geldenhuys by om af te rond. Die binnesenter, Jarian de Klerk, het verdoel vir ’n 7-0-voorsprong.

Kort hierna het ’n belowende agterlyn-beweging van Villa in ’n nagmerrie ontaard toe die tuisspan se skrumskakel, Ruduwaan de Vlam, onderskep en gaan druk het. Die heelagter, Shandro Jaftha, se doelskop was egter mis. Prouks, wat behoorlik aangevuur was, se regtervleuel, Jaydian Douries, is in die hoekie oor vir ’n drie wat Jaftha ook nie kon verdoel nie. Kort hierna het Villa sy voorsprong herwin toe die buitesenter, Henrico Daniels, onder die pale afgerond en De Klerk verdoel het (14-10-voorsprong).

Dié voorsprong het na 21-10 gerek toe die agsteman, Nathan Pedro, ’n drie in die hoek gedruk het. De Klerk het skitterend uit die hoek verdoel.

Prouks het kort voor rustyd punte gekry toe die slot Divan Erasmus vir ’n onvervyfde drie oorgeduik het.

Ná rustyd het Villa se plaasvervanger-haker, O’ryan Jacks, oorgebars vir ’n drie wat De Klerk nie kon verdoel nie.

Prouks het egter nie bes gegee nie en is met ’n sewepunter beloon toe die slot Sepula Mosoli oorduik en die plaasvervanger-heelagter, Keano Messias, verdoel het. Hierna is ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken, wat die telling 29-26 gemaak het. Die telling is egter weer gelykgetrek toe die plaaasvervanger-skrumskakel, Gurswin Africa, met ’n strafskop geslaag het.

Kort hierna het Prouks weer sy neus voor gekry toe Messias met ’n strafskop geslaag het. Villa het verwoed aangeval en met die uurglas wat leegloop, het Africa met ’n strafskop geslaag om die wedstryd gelykop te laat eindig.

In ’n opwindende hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Prouks met 27-0 geklop met die agsteman, Edward Haas, die groot uitblinker, terwyl Villa se derdes vroeër die dag 5-0 bo was. . Saterdag speel Villa sy laaste vriendskaplike wedstryd weg teen St. Helenabaai voordat die Boland se ligas amptelik op 2 Maart afskop met ’n tuiswedstryd teen Montagu Villagers op Bolandpark.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article