Met die gewilde Sanlam- en Boland-rugbyunie se Top12-kompetisie wat hierdie naweek begin, het Worcester Villagers Maandag (7 Oktober) sy gekose groep spelers met ’n uithang-geleentheid by die Cumberland-hotel bekendgestel. Dié klub se ondersteuners en borge het die verrigtinge bygewoon.

Villa, soos hy algemeen bekendstaan, sal die Langebergstreek saam met sy buurklub, Robertson Town, in die Top12-kompetisie verteenwoordig.

Piet Hermanis het as seremoniemeester opgetree en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Ná die amptelike verwelkoming van die voorsitter, John Vergotine, het Hermanis die verrigtinge sommer lekker laat vloei. Verskeie hooggeplaastes, onder wie Antoinette Steyn (die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit), Margie Sampson (die onderburgemeester van die Kaapse Wynland-munisipaliteit), Dirk Swart (Kaapse Wynland-munisipaliteit-portefeuljehouer van sport, kuns en kultuur), die nimlike Pietie Williams, James Fortuin (hoof van Boland-krieket), Nigel Ranchod (wat die president van Boland-rugby, Bennie van Rooi, verteenwoordig het), verteenwoordigers van die onderskeie borge asook spelers met hul gades of metgeselle, ondersteuners asook die bestuur en afrigterskorps het opwinding aan die aand verleen.

Die gewilde kunstenaar Darryl Thomas, ook ’n speler van Villa, het met sy weergawe van “The Impossible Dream” menige ondersteuners en spelers se hart laat swel van trots, veral met dít wat die span ná etlike katastrofes oor die afgelope twee seisoene vermag het.

Edward Haas, Villa se kaptein, het in sy toespraak sy spelers daarop attent gemaak dat hulle hul eie boek skryf en nou besig is met ’n nuwe hoofstuk.

Geniet mekaar, wees lief vir mekaar en gaan maak ons klub, ons dorp maar ook Boland trots, het Haas gesê.

Antoinette Steyn het Villa in haar toespraak gelukgewens en die spelers daarop gewys dat hulle spore moet nalaat wat die kinders in die toekoms kan nastreef.

Alridge Mercuur, Villa se direkteur van afrigting, het geswel van trots en sy spelers opnuut aan die doelwit herinner: “Een. Dit staan vir eenheid, eerlikheid en nederigheid.”

Ranchod het die spelers namens die Boland-rugbyunie sterkte toegewens en tong in die kies gesê hy sal hulle weer op 27 November in Wellington by die eindronde sien.

Kort videoboodskappe deur drie van Villa se uitvoerprodukte is ook gedeel – die oudspelers Deon Davids (deesdae hulpafrigter van die Springbokke), Gurswin Wehr (tot onlangs lid van die Griffons, ’n 7’s-Springbok en nou lid van die Sharks-span wat tans in Europa toer), asook die Puma Lungi Msengi. Al drie het die span die beste toewens.

Nadat Villa se spelers met hul uitrusting en ’n spesiale Villapet gelukgewens is, is die spelers, bestuur, gaste en ondersteuners met versnaperinge getrakteer om die aand op ’n gesellige noot af te sluit.

Villa begin sy aanslag Saterdag (12 Oktober) met ’n wegwedstryd teen Newtons op die Boland-stadion in Wellington, terwyl Robertson op dié dag op die Van Zylstaat-stadion in Robertson teen Darling te staan kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article