Een van Young Hamiltons se driedrukkers en uitblinkers, Larren Buys, verdedig verwoed teen Villa om balbesit te hou.Foto: Chantal Martinus


Worcester Villagers het Saterdag (7 September) op Esselenparkstadion seker gemaak dat hy sy plek in die Top-12-uitspeelwedstryde van die Boland Grootuitdaag-kompetisie inneem toe hy ’n gelykopwedstryd (32 elk) teen sy buurklub, Young Hamiltons, gespeel het.

Met dié gelykopuitslag het Villa seker gemaak dat hy Hammies se drome finaal kelder. Villa het nou 93 punte, terwyl Hammies tans op 85 punte staan, met hierdie naweek se laaste wedstryd teen Blue Birds van Bonnievale nog uitstaande.

Die wedstryd het groot belangstelling gelok, is deur bykans 15 000 toeskouers – ondersteuners van die spanne en rugbyentoesiaste van oor die streek heen – bygewoon en het fynproewer-rugby opgelewer. Die uitslag was tot die einde nie ’n gegewe nie.

Hoewel Villa verwoed begin het, was dit Hammies wat die telbord aan die rol gesit het toe sy linkervleuel, Luciano (Lucky) Truter, met ’n maklike strafskop slaag. Die telling is kort hierna gelykop toe Villa se skrumskakel, Gurshwin Africa, ook met ’n strafskop slaag.

Hammies kry die oorhand toe die oud-Villaspeler Larren Buys oorgaan vir ’n drie. Truter verdoel om Hammies met 10-3 te laat voorloop. Africa vernou die gaping toe hy oorgaan vir ’n drie, wat Villa se jong losskakel, Carick Kustoor, nie kon verdoel nie. Villa neem kort hierna die voortou toe Africa ná ’n skitterende beweging wat in Villa se gebied begin, vir sy tweede drie oorduik. Weer is die doelskop nie suksesvol nie, maar Villa loop nou 13-10 voor. Kort voor rustyd maak Truter sake gelyk toe hy met nog ’n strafskop slaag.

Vroeg in die tweede helfte kry Hammies sy neus voor toe sy kaptein en agsteman, Philbry Joseph, oorgaan vir ’n drie. Truter verdoel om Hammies met 20-13 te laat voorloop. Villa slaan hard terug toe sy binnesenter, Jadrian de Klerk, onder die pale druk en Africa verdoel om sake gelykop te maak. Villa neem hierna die voortou toe sy linkervleuel, Cubitt Micheals, oorgaan vir ’n onvervyfde drie. Sake word weer gelyk toe nog ’n oud-Villaspeler, Damian Hopley, ook vir ’n onvervyfde drie oorgaan. Hammies neem weer die voortou toe sy buitesenter, Ethan Satera, oorgaan vir ’n drie en Truter met die doelskop slaag om die tuisspan met 32-25 te laat voorloop. Villa se skitterende flank verander die prentjie toe hy uit sy eie gebied begin hardloop, verskeie teenstanders klop en onder die pale gaan kuier. Met Africa se suksesvolle doelskop eindig die telling met 32 elk en kry Villa die nodige twee punte om na die Top-12-kompetisie deur te dring.

. In die hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes Hammies B met 18-15 terwyl Villa se derde span met 15-10 bo was teen Hammies. In vroeë wedstryde klop Roodewal Primêr se o.13’s Esselenpark Primêr se o.13’s met 14-12, terwyl Worcester Warriors se vrouespan die Hexvallei-vroue met 19-3 kafdraf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article