View of Hope se promosieligaspan het hierdie naweek ’n double header gespeel ná verlede naweek se teleurstellende uitslag.

Hope het Saterdag die goed gebalanseerde Mountain Sweepers van Zwelethemba aangedurf. Hierdie wedstryd het – soos verwag is – goeie toeskouertalle gelok en sprankelende sokker opgelewer.

Die besoekers het hulle by tye goed in die middelveld laat geld, maar Hope se angel in die middel, Kelvin Butland, het niks toegelaat nie. Hy het weer eens sy heerskappy in die gebied beklemtoon deurdat hy sy span se spoedvrate in die eerste helfte genoeg balbesit gegee het.

Hope se doelvraat, Dimitri van Rooi, het egter sy doelstewels by die huis gelos, want hy kon nie verby die Sweepers-doelwagter kom nie.

Fabian Esterhuizen het ’n dwarsskop van Howard Anthony beheer, maar die bal het losgespat en ’n speler van Sweepers getref, wat die bal tot in die doelhok laat spat het.

Fabian is kort daarna van die veld af.

Jonathan Prins, wat Esterhuizen halfpad deur die eerste helfte moes vervang, het gesukkel.

Hope se tweede doel is ook deur ’n Sweepers-verdediger aangeteken ná ’n aanslag op Sweepers se doelgebied. Die eerste helfte het op 2-0 vir Hope gesluit.

Nadat spel in die tweede helfte hervat is, het dinge ook nie beter gegaan nie, hoewel Hope die wedstryd oorheers het. Die geluk het na Hope se kant gedraai toe Sweepers se verdediger Van Rooi, Hope se kaptein, neervel. Aasif Witbooi, die skeidsregter, het ’n strafdoel toegeken, wat Jonathan Prins behartig en geen fout mee gemaak het nie (telling: 3-0).

Hope se verdedigers se gestamel in hul eie gebied het veroorsaak dat hulle in besit betrap is en Sweepers het die kans benut en ’n doel aangeteken (3-1).

Met die doel en Hope se verdediging nou meer op sy hoede het die spel steeds met Hope op die aanval en Sweepers meer verdedigend voortgebeur, en Hope is later deur sy eerste hekkie vir die naweek met ’n oorwinning van 3-1.

Die tweede wedstryd teen Rawsonville Gunners Sondag (1 Mei) het nie beter verloop nie aangesien nie al die spelers vir die wedstryd opgedaag het nie.

Die aanvallende sokker wat die toeskouers op hul voete gehad het, was goed, maar die afronding het ontbreek.

Die instaan-doelwagter, Tyronne Lotterie, is verskeie kere beproef, maar het alles buite gehou.

Die rustydtelling was 0-0.

Ná rustyd en meer gemotiveerd en met een ding voor oë – om die doel wat die span vir homself gestel het, te bereik deur albei wedstryde te wen – was die vloei beter. Ná skitterende samespel tussen die voorspelers het Jonathan Prins die kol ná ’n skitterende aangee van Van Rooi getref (telling: 1-0).

Met die doeldroogte gebreek, het die tuisspan keer op keer aangeval en een van die aanvalle het op ’n skitterende deurgee van Butland na Van Rooi uitgeloop, wat in Hope se tweede doel geëindig het nadat hy die doelwagter met goeie beheer geklop het (2-0).

Jonathan Prins het die laaste sê in die wedstryd gehad toe hy sy tweede doel aangeteken het (3-0).

Dit was die eindtelling en Hope het sy doelwit vir die naweek bereik.

Die spanbestuurder het niemand as speler van die wedstryd aangewys nie.

Die Superliga-span het ’n voorwedstryd teen die huidige voorlopers, Buccaneers, gespeel. Nadat ’n hele jongspan vir dié wedstryd ingespan is, het Hope se spelers die voorlopers in die eerste helfte laat bloedsweet – só erg dat Bacca, soos die toeskouers hom noem, gedwing is om twee veranderings in die eerste helfte te maak – ’n teken dat hy die jongspan onderskat het.

Bacca se eerste doel was teen die verloop van die spel deurdat die onervare verdedigers uit posisie hardloop en hul doelskieter ’n “goaly to beat” kry en sodoende die eerste doel aangeteken het. Buccaneers het diep in die eerste helfte ’n doelskop gekry, maar Lekay, Hope se instaandoelwagter, het die bal skitterend gekeer (rustydtelling 0-1).

View of Hope het goeie sokker in die tweede helfte gespeel, maar goeie sokker alleen wen nie wedstryde nie – doele wen wedstryde. Dit het by die span ontbreek, en Buccaneers het nog twee doele aangeteken.

’n Speler van Hope, wat uitgesonder moet word, is Craig Joseph, wat in sy nuwe rol as laaste speler in die verdediging uitgetroon het. Hy het die voorspelers van Bacca harde bene laat kou.

Die eindtelling was 0-3, en Craig is as speler van die wedstryd aangewys .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article