Die View of Hope-sokkerklub moes Sondag 15 Mei ’n omgekrapte United Pirates op sy tuisveld in Zwelethemba gaan aandurf. Omdat beide spanne aan die onderkant van die puntelys is, was hierdie wedstryd – veral vir die tuisspan – van groot belang.
Die tempo waarteen Pirates die wedstryd begin het, asook die patroon hoe hy Hope se jong brigade wou uitoorlê, was duidelik in die wedstryd te sien. Hul sneller (striker), wat baie langer en vinniger as Hope se verdedigers is, het ook sommer vroeg in die wedstryd sy staal gewys en Pirates gou 1-0 laat voorloop.
Hope is skaars genoeg tyd gegun om van die skok te herstel toe Pirates se middelskakel die Hope-harte weer met nog ’n doel breek (2-0). Met die telbord teen hulle, het Hope se middelveld hulle reggeruk en meer balle na die skerp doelskieters begin stuur, met een van die briljante deurskoppe van Jobelian Steyn na Jaden Arries, wat op sy beurt vir die skitterende Jowayren November weggestuur het doelpale toe. November het die laaste verdediger asook die doelwagter geklop om Hope se eerste doel aan te teken (2-1). Dit was ook die rustydtelling.
Ná hervatting het Hope sy legendariese Theo de Bruin opgestuur om meer kalmte in die middel te bewerkstellig. Met ’n goed uitgewerkte plan om Pirates se sneller hok te slaan, het Hope sy plan in dade omgesit. Hulle het Jowayren gebruik om die verdedigers van United te ontsenu.
Die plan het vrugte afgewerp, want met die aandag op November, het Demetrio Olyn die doelhok met ’n goeie doel getref nadat hy van die kantlyn af ingesny en die doelwagter van buite die 22 m-lyn geklop het; (2-2).
Jowayren het hierna weer twee verdedigers binne die doelhok geklop, maar is deur die derde een binne die doelhoek platgetrek, en die skeidsregter het geen ander keuse gehad as om die vinger na die merkie te wys nie. Olyn het die kol van die strafmerkie af getref om Hope die eerste keer te laat voorloop (2-3).
Hierdie doel het ’n nagevolg omdat Jowayren ongelukkig die veld moes verlaat. Een van Pirates se spelers het ook ’n rooikaart gekry.
Hope, met meer ruimte, het hierna verbete aangeval. Een hiervan het uitgeloop op Demetrio se driekuns nadat hy vlymskerp van die linkervleuel af gebreek het om die doelwagter met die doel van die wedstryd te klop; (2-4).
Pirates wou egter nie bes gee nie en het Hope in sy gebied getreiter. Op die oomblik toe die goeie kombinasie van Craig Davids en Enoch Ambraal gefnuik is, het Pirates se sneller die doelwagter, Laren April, vir sy tweede doel geklop; (2-5). Ongelukkig vir Pirates is dié wedstryd net daarna beëindig, en dit was dus nog ’n oorwinning vir die jong tiere van View of Hope.
Demetrio Olyn is tereg as speler van die wedstryd aangewys.. Hope se volgende wedstryde is Sondag 22 Mei met die Promosieliga-span wat Brave Defenders in De Doorns gaan aandurf, en die Superliga-span wat op Esselenpark teen Zwelethemba Pirates te staan kom.


