Die B-span van View of Hope-sokkerklub het vriend en vyand verras deur die huidige Superliga-voorloper – en tot dusver die enigste onoorwonne span – Manchester United, met 3-2 te verslaan.
Die wedstryd het groot belangstelling gewek, want dit was ’n derby van die View. Hope se jong mannetjies het vroeg in die wedstryd ’n aanval afgestuur, die vurige JT Titus is in die doelgebied neergevel en Hannes Malgas, die skeidsregter, het na die strafmerk gewys. Preston Modicaine is met die doelskop vertrou en het nie teleurgestel nie (telling: 1-0 in die guns van Hope).
Man United, geskud deur die doel, het aanval na aanval weggestuur, maar die sentrale verdedigers, Ridiwano Brooks en Cheston Fransman, het die gate toegestop. Man United het ’n strafskop buite die 22-meter-lyn gekry en sy doelskieter het Hope se doelwagter geklop en die telling gelyk gemaak (1-1).
United het die kol skaars vyf minute later weer getref en die rustyd-telling was 2-1.
Hope se doelwagter is net voor rustyd met die jong Leagon Brooks vervang.
Ná rustyd het Hope se jongelinge met meer vuur gespeel, veral met Greg Davids wat ook opgekom het. Halfpad deur die tweede helfte het Hope aanval na aanval afgestuur. Man United het al sy ervare spelers van die bank af laat kom, en in een aanval het Greg Davids United se verdedigers geklop en die telling gelykop gemaak (2-2). United het verbete aangeval, maar Hope se verdedigers het wal gegooi. Met sowat 10 minute oor het JT Titus sy hakke vir die United-spelers gewys en Hope se derde doel aangeteken (telling 3-2 in die guns van die tuisspan). Daarna het die Hope-verdedigers die krane vir ’n geskiedkundige oorwinning toegedraai.
Die afrigtingspan het die hele span aan as spelers van die wedstryd aangewys. Spelers wat uitgestaan het, was Ridiwano, Cheston, Enoch Ambraal, JT Titus, Caden, asook Junior Geweldt.



