Die B-span van View of Hope se sokkerklub het ná sy vorige oorwinning baie hoopvol vir sy wedstryd Sondag teen die huidige voorlopers, Buccaneers, opgedaag, maar kon nie die knoop deurhaak nie.

Die span het heelwat veranderings aangebring en die wedstryd met oorgawe aangepak en sy buurspan van Avianpark sommer vroeg laat bloed sweet.

Hope het verskeie geleenthede gehad om doele aan te teken, maar oorywerigheid of ’n gebrek aan ondervinding het hom gekniehalter.

Jowayren November het die agterspeler van Bucs behoorlik laat rondhardloop met sy spoed. Buccaneers het sowat 25 minute in die eerste helfte sy eerste kans gekry en gebruik daarvan gemaak om die eerste doel van die wedstryd aan te teken.

Soos verlede week het die jong manne van Hope nie gaan lê nie, maar harder probeer. Enoch Ambraal is in die doelhok neergevel en die skeidsregter, Hannes Malgas, het ’n strafdoel toegeken. Preston Modicaine het vir die poging aagelê en geen fout gemaak nie (1-1). Die spanne het later op dié telling gaan water drink.

Ná halftyd en met heelwat nuwe gesigte op die veld – veral Hope se klein ystertjie, Gregg Davids, as doelskieter, het die span met baie geesdrif begin, omdat die gevoel onder die spelers was dat hulle dalk ook hierdie een kan deurtrek.

Maar die tempo van die spel – en Buccaneers se taktiese skuiwe in die tweede helfte – het te veel geword vir veral die senior spelers van Hope, en Bucs het die agterste linie van Hope keer op keer uitoorlê.

Bucs het die doele die een na die ander in die tweede helfte ingeryg en binne ’n bestek van 20 minute drie doele aangeteken, wat die telling eensklaps na 4-1 vir die tuisspan gebring het.

Een van dié doele was een van die bestes nog hierdie jaar, aangeteken deur Buccaneers se middelskakel, nadat hy Hope se doelwagter met ’n goed berekende skop van ver buitekant die 22 m-lyn geklop het.

Hope het moedig probeer om die telbord aan die rol te kry, maar dit was tevergeefs. Spelers wat vir die verloorspan uitgestaan het, was die veterane Efraim de Bruyn, Jeandre Hartman, Theodore de Bruin, Enoch Ambraal en die speler van die wedstryd, Jowayren November. Die span het dus sy eersterondeverpligtinge op ’n verloornoot afgesluit.VView Of Hope bied hierdie Saterdag (2 April) ’n gholfdag aan in die vorm van ’n tweebal-scramble by die Riverside-gholfklub. Die inskryfgeld beloop R200 per speler. Hope pryse is op die spel, veral vir die wenspan, wat gaan wegstap met ’n halwe lam.

Kom ondersteun die klub, want hierdie geleentheid is ten bate van die klub se 50-jaar-feesvieringe, wat in Augustus ’n hoogtepunt bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article