View of Hope het uiteindelik die kans gekry om aan die uitspeelwedstryde deel te neem, en het nie die kans verbrou nie.

Credit: SYSTEM

Ná vele uitstelle van die uitspeelwedstryde vir sokkerspanne om ’n plek in die MRL-liga te kry, kon die koring die afgelope naweek van die kaf geskei word.

Weens hofsake en LFA se ontevredenheid het tien spanne in plaas van vyf uiteindelik die stryd aangepak.

Die uitspeelwedstryde is in twee strome verdeel, en View of Hope is in die A-stroom getrek. Die stroomwenners sou ná vier strawwe wedstryde vir die naweek bepaal wie gaan deur, en View of Hope het die bestuur, oudspelers asook ondersteuners en die hele Worcester wat bankvas agter die span gestaan het, baie trots gemaak deur hul stroom in die laaste minute te wen.

Saterdag (10 September) moes die klub twee harde wedstryde slegs ’n uur en ’n half uit mekaar speel.

In die eerste wedstryd teen Eastern Cape FC van Langeberg het hulle 4-1 geseëvier, met drie doele deur die doele-vraat Jonathan Prins en een deur Kaden Pass. In die tweede wedstryd kort daarna het hulle die “stream favourite” Loxton FC aangevat. Loxton het die sterre van Hope verras deur eerste bloed te ruik (0-1). Skaars ’n minuut daarna het Jonathan Prins die gelykmaker aangeteken. Die telling het 1-2 in die plaaslike span se guns gedraai, en dit het Hope se toeskouers genoop om te begin sing om die span aan te moedig. Dit het die nodige motivering gebring en eensklaps was die telling 4-2, met doele deur Prins, Iwan Helm en Ridiwaan van Rooi.

Sondag (11 September) het soos ’n slag begin, omdat die jongmanne die stert ná die vorige dag te hoog gehou het en Hope is lelik terug aarde toe gebring met ’n telling van 1-6 teen die span van Drakenstein se Minnie Eagles. Hope se doel is deur Cheldon Arendse aangeteken en veroorsaak dat die laaste wedstryd in ’n moet-wen-situasie verander het.

Daar is lank in die raadsaal besluit wie hierdie wedstryd moes begin, en nadat almal tevrede was, is die span sterkte toegewens en losgelaat om die trots van Hope te herstel.

Die wedstryd was teen SBM Ajax van Ceres, en sommer vroeg in die wedstryd het die Prins van die View of Hope die eerste doel aangeteken (1-0), wat ook die rustydtelling was. Ná rustyd het Prins seker dié doel van die toernooi aangeteken, om die telling 2-0 te maak. Ajax het pragtig teruggekom en die telling 2-2 gemaak. Met die uurglas wat leegloop, is Ridiwaan verskuif na sy ouboet (Dimitri, wat beseer is) se posisie en hy het gestand gedoen aan sy woorde in die kleedkamer om die telling op 4-2 te laat eindig.

Hope is dus die groepwenners en word na die MRL-liga bevorder. Jonathan Prins is beloon met sy agt doele in die toernooi en is verdienstelik as speler van die uitspeelwedstryde gekroon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article