Vier mense is die afgelope naweek in verskeie dorpe in die streek vermoor.
Twee van die vier moorde was in De Doorns. In die eerste voorval is ’n 36-jarige man Sondag om 18:40 in Lubisi doodgeskiet.
“Die ooggetuie in die saak het skote van naby af hoor afgaan. Hy het toe na sy broer se informele huis gegaan en met sy aankoms het hy sy broer binne op die vloer kry lê. Hy het vyf skietwonde aan sy lyf gehad,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.
Later dieselfde aand is ’n poging-tot-moord-voorval in Stofland aangemeld.
“ ’n Man het in sy informele huis gesit toe hy skielik skote hoor afgaan het. Toe dit verby is, het hy uitgegaan en die gemeenskap het hom vertel van drie mans wat op ’n ander informele huis losgebrand het. Die inwoner van daardie huis is gewond en is hospitaal toe geneem.”
’n Lyk is Sondag om 14:00 langs die treinspoor gevind.
“Volgens die treindrywer was die liggaam in ’n plastieksak toegedraai en het half op die treinspoor gelê. Die trein het so effens oor die liggaam gery. Die man was reeds dood toe hy gevind is. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik hoe die man doodgemaak is en wanneer sy lyk by die treinspoor gestort is,” het die woordvoerder gesê.
In ’n afsonderlike geval in Robertson is ’n 16-jarige seun noodlottig gesteek.
Volgens ’n woordvoerder van die Robertson-polisie het die voorval Sondag om 14:00 plaasgevind.
“Nadat vyf jong mans by ’n kuierplek weg is, het hulle nege vroue gehelp om ’n saamrygeleentheid na Ashton te kry. ’n Minibus met drie insittendes het gestop. Die vyf jong mans wou egter ook in die bussie klim, en ’n onderonsie tussen een van die insittendes en een van die jong mans het ontstaan. Die insittende het toe uitgeklim en die 16-jarige gesteek. Hy is op die toneel dood. Agterna het nog ’n voertuig daar stilgehou en die meeste van die jong mense het in dié voertuig geklim om van die toneel af weg te kom. ’n Verdagte is Maandag in hegtenis geneem en formeel aangekla,” het die woordvoerder van die Robertson-polisie verduidelik.
’n Man is Sondag om 17:00 in Worcester met ’n graaf doodgeslaan.
“ ’n Ooggetuie het gesien hoe die oorledene en die verdagte baklei toe sy by haar huis in Roodewal uitgaan. Sy het gesien hoe die verdagte iemand met sy vuis slaan, waarna hy op die grond neergeval het. Die man wat geslaan is, se broer het ook toe betrokke geraak en die verdagte het hom met ’n glas bier op die kop geslaan en die wond het begin bloei. Hy het die man met die oorblywende stukke glas in sy hand deur die gesig geslaan,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Die verdagte het toe na sy huis gegaan en ’n graaf gaan haal.
“Die verdagte het die man, wat hy met die glas geslaan het, herhaaldelik met die graaf op sy kop geslaan totdat hy op die grond geval het. Die verdagte se vrou het die man herhaaldelik met klippe gegooi terwyl hy op die grond gelê het. Die man is op die toneel dood verklaar en die verdagte sal op ’n aanklag van moord in die hof verskyn.”


