Moorde in De Doorns is weer eens aan die toeneem.
Vier mense is die afgelope twee weke in dié dorp vermoor.
Die eerste twee voorvalle was op 26 November ’n paar uur uitmekaar.
In die eerste voorval is ’n 38-jarige man vermoor.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die oorledene met veelvuldige steekwonde aan sy lyf aangetref. Die man het nog geleef en die ambulans is na die toneel in Stofland ontbied. Hy het egter op pad na die hospitaal aan sy wonde beswyk,” verduidelik ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie.
Op hierdie tydstip van die ondersoek is nog geen duidelikheid oor wat presies gebeur het wat tot die man se dood gelei het nie. Volgens die woordvoerder kon geen ooggetuies opgespoor word nie.
In die tweede voorval is ’n 35-jarige vrou kort voor 07:00 dood gekry.
“Sy het twee steekwonde in die rug gehad. Die polisie het haar op haar rug aangetref. ’n 21-jarige man is later weens die moord in hegtenis geneem. Dit is onduidelik wat tot die aanval gelei het.”
Hierdie voorval was in die GG-kamp. Die verdagte het reeds in die hof verskyn.
Vrydag 9 Desember is ’n 40-jarige man deur ’n 16-jarige doodgesteek. Die voorval het net na 21:00 plaasgevind.
“Die 40-jarige en die 16-jarige het glo oor die ouer man se dogter gestry. Die jonger man het die 40-jarige glo in die linkerskouer gesteek. Met die ambulans se aankoms op die toneel het paramedici die man dood verklaar,” verduidelik die woordvoerder.
Die minderjarige is in hegtenis geneem en het Maandag op aanklag van moord in die hof verskyn.
’n Man is Sondag 11 Desember om 02:00 in a stegie met veelvuldige steekwonde aangetref.
“Met die polisie se aankoms op die toneel was die 21-jarige man reeds oorlede. Die polisie het ’n verdagte met behulp van inligting van ooggetuies in hegtenis geneem.”
Hierdie verdagte het ook reeds in die hof op aanklag van moord verskyn.

