In die tweede gewapende rooftog in soveel weke was die Pep-klerewinkel in die middedorp van Worcester die jongste slagoffer.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het vier mans op Maandag 20 November om 10:45 die winkel binnegegaan.
“Een van die mans het ’n vuurwapen uitgehaal en die personeel beveel om stil te bly en om na die stoorkamer in die agterste deel van die winkel te gaan. Hulle het dit toe gedoen.”
Twee van die verdagtes het die winkelbestuurder en twee ander personeellede na die stoorkamer vergesel.
“Die ander twee verdagtes het voor in die winkel by die kasregisters bly staan. Die ander twee wat saam met die personeel gegaan het, het ’n kas in die stoorkamer oopgemaak waar die selfone gebêre was. Hulle het ’n onbekende aantal selfone gevat wat hulle in sakke gepak het. Daarna het hulle weer na die voorkant van die winkel beweeg en ’n onbekende bedrag geld uit die kasregisters gevat wat hulle ook in die sakke gestop het.”
Die verdagtes het toe die winkel se personeel in die stoorkamer toegesluit en van die toneel af gevlug.
Jacobs verduidelik ook dat die verdagtes buite die winkel afgelaai is en hulle is kort daarna die winkel in.
“Ná die rooftog is hulle weer deur dieselfde voertuig opgelaai. Dit is onbekend watter soort voertuig dit was, maar dit was ’n groot donkerblou voertuig met ’n Lesotho-nommerplaat.”
’n Soektog na die rowers is ná die voorval van stapel gestuur, maar die verdagtes is nog nie opgespoor nie.




