Meer as ’n maand nadat ’n video waarin ’n vrou vermoedelik verkrag was die rondes gedoen het, is die man wat die video gemaak het nog nie in hegtenis geneem nie.

Die voorval het op Sondag 18 Februarie in die vroeë oggendure buite ’n kuierplek in De Doorns plaasgevind. Volgens bronne met grondige kennis van die voorval en video, het die slagoffer eers later die Sondag uitgevind wat met haar gebeur het nadat haar vriende haar daarvan vertel en sy self die video onder oë gehad het.

Sy het toe na die Thuthuzela Care Centre in Worcester gegaan sodat hulle haar kon ondersoek. Op hul beurt het hulle die saak onder die aandag van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) gebring. Die speurder het egter nie onmiddellik die saak geregistreer nie. Die verdagte in die video is toe eers op 28 Februarie in hegtenis geneem. Hy is egter later op borgtog vrygelaat.

Standard & Gazette het op Maandag 11 Maart by die GKS en provinsiale polisie navraag gedoen of die man wat die video gemaak het al in hegtenis geneem is, maar nog geen antwoord ontvang nie. Standard & Gazette het Maandag 18 Maart weer daaroor navraag gedoen, en die provinsiale polisiewoordvoerder, AO Joseph Swartbooi, het die volgende in ’n e-pos-antwoord gesê: “Neem asseblief kennis dat die ondersoek na die omstandighede rakende die voorval wat in u navraag aangehaal word, nog ondersoek word. Ons doen ’n beroep dat alle belanghebbende partye die spesialiste in die veld toelaat om hul ondersoek ongehinderd en sonder onnodige inmenging af te handel. Neem asseblief die emosionele status van die slagoffer in ag en hoe sy geraak word as gevolg van die feit dat beeldmateriaal onverantwoordelik versprei word. Dit is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om sy bronne te beskerm. Die ondersoekbeampte volg alle beskikbare leidrade op in ’n poging om die saakdossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag voor te lê vir ’n beslissing,” het Swartbooi gesê.

Volgens ’n bron wat gereeld in kontak is met die slagoffer, gaan dit goed met haar, al is sy gefrustreerd oor die manier waarop die saak hanteer word.

Swartbooi doen ook ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die saak op te los, om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

Die verdagte in die saak sal op 15 Mei weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article