Die Worcester Victorians-krieketklub (Viccies) het die afgelope naweek die Elgin-krieketklub op die Esselenpark-krieketveld in Worcester bloedneus geslaan.
Viccies se kaptein, Peter Verhoog, het die loot gewen en besluit om die manne van Elgin in te stuur om eerste te kolf.
Hierdie besluit sal vir jare by die manne van Elgin spook, want hulle is almal vir ’n skamele 15 lopies in 14.4 boulbeurte uitgeboender.
Die boulers wat vir Viccies verwoesting gesaai het, was Alreeck Conradie, wat sewe paaltjies vir slegs sewe lopies in 7.4 boulbeurte laat kantel het, en Peter Verhoog, wat drie paaltjies vir slegs agt lopies in 7 boulbeurte platgetrek het.
Viccies se twee aanvangskolwers het die wenlopies in slegs 2.3 boulbeurte gemoker met André Hartog wat met 14 lopies nie uit nie en Nathan Loff met drie lopies nie uit nie geëindig het.
Viccies het die wedstryd verspot maklik met 10 paaltjies gewen.
In Grabouw het Worcester Victorians se tweede span teen Elgin se tweede span kragte gemeet.
Elgin II het 277 lopies in 43 boulbeurte aangeteken.
Viccies II het 281 lopies vir die verlies van nege paaltjies in 50 boulbeurte aangeteken, wat hom ’n eenpaaltjieoorwinning besorg het. Die uitblinker vir Viccies II was Lawrence Wildskut, wat 94 lopies aangeteken het.




