Die Worcester Victorians-krieketklub het sy teenstanders die afgelope naweek kafgedraf toe hulle die stryd teen Caledon aangesê het, en hiermee het hulle hul plek vir die volgende seisoen in die promosieliga vasgemaak.
Peter Verhoog, Worcester Victorians se kaptein, het die loot gewen en besluit om die manne van Caledon in te stuur om eerste te gaan kolf.
Hierdie blyk ’n goeie besluit te gewees het, want die manne van Caledon is deur Viccies se verwoestende boulaanval onder geweldige druk geplaas.
Caledon is almal kleedkamer toe gestuur vir slegs 113 lopies in 32.1 boulbeurte.
Vir Caledon was dit slegs K. Williams wat enigsins weerstand met die kolf gebied het. Hy het 29 lopies aangeteken; R. Davids het 17 lopies en R. Abrahams 12 lopies aangeteken.
Die manne wat vir Viccies verwoesting met die bal gesaai het, was Lorenzo Wilskut, wat drie paaltjies vir slegs twee lopies in 1.1 boulbeurte laat kantel het; Derrick Solomons (3-23-7); Brandon Ceasar (2-22-5) en Alreeck Conradie en Fredlin Visser met een paaltjie elk.
Victorians, wat 114 lopies moes aanteken, het dit in 20.4 boulbeurte met slegs vyf paaltjies plat gemoker, wat hom ’n vyfpaaltjie-oorwinning en ’n welverdiende plek in volgende seisoen se promosieliga besorg het.
Die speler van die wedstryd was Viccies se Ettienne Klein, wat met die kolf uitgeblink het. Hy het die beurt geopen en op 58 onoorwonne lopies geëindig. Hy is goed bygestaan deur Leighton Davids (15) en Rumark Wilskut (12).
Vir Caledon het die boulers RC Pitcher (2-12-4), L. Sauls (1-21-5.4) en B. Benjamin (1/35) paaltjies geneem.
Worcester Victorians, wat ’n droomseisoen onder afrigting van Granville Fortuin beleef en slegs een wedstryd verloor het, verdien nou ’n welverdiende ruskans en sien uit na hul volgende avontuur in die promosieliga.





