Worcester Victorians-krieketklub het Saterdag teen Grabouw-krieketklub te staan gekom en gewys dat hy ’n belowende krieketseisoen gaan hê.
Grabouw se kaptein wen die loot en besluit om Viccies in te stuur om eerste te kolf.
Viccies verloor sommer vroeg sy eerste paaltjie, maar sy aanvangskolwer, Nathan Loff, en Nurkarrim Babu kasty die boulers van Grabouw. Hulle is saam in ’n vennootskap van 107 lopies om die derde paaltjie. Loff skitter met die kolf en teken 122 onoorwonne lopies van 155 balle aan. Dit sluit 11 viere en drie sesse in. Babu teken 35 lopies aan en Quiwin Martin eindig met 39 onoorwonne lopies met drie viere en drie sesse.
Worcester Victorians teken 256 vir die verlies van vier paaltjies in sy toegelate 50 boulbeurte aan.
Vir Grabouw neem S. Swartland twee paaltjies vir 40 lopies in sy toegelate 10 boulbeurte en J. Adams neem twee paaltjies vir 33 in sy 10 boulbeurte.
Grabouw kolf hierna en verloor sommer sy paaltjie met die eerste bal van die kolfbeurt toe die openingsbouler, Alreeck Conradie, Grabouw se openingskolwer van sy eie boulwerk uitvang.
Vir Grabouw is dit slegs A. Booysen met 25 lopies nie uit nie en G. Hess met 22 lopies wat enigsins weerstand met die kolf teen die akkurate boulwerk van Viccies kon bied.
Die manne wat die paaltjies vir Viccies laat kantel het, was Tevin Loth, wat vier paaltjies neem vir 24 lopies in 5.2 boulbeurte, Warren Nimerod met twee paaltjies vir 26 lopies in vyf boulbeurte, Brandon Ceasar met een paaltjie vir 16 lopies in vyf boulbeurte en Alreeck Conradie met een paaltjie vir 21 lopies in vyf boulbeurte.
Grabouw I word almal kleedkamer toe gestuur vir slegs 90 lopies in 20.2 boulbeurte, wat aan Worcester Victorians ’n oorwinning van 166 lopies besorg.
Worcester Victorians speel hierdie naweek tuis teen die liga-voorlopers, Hermanus.





