Drie mense is dood en tientalle ander beseer toe ’n vragmotor wat plaaswerkers vervoer het vanoggend (12 Desember) kort voor 07:00 op die Occultdale-pad by Cape Farms buite Philadelphia gerol het.
Luidens ‘n verklaring van die provinsiale polisiekantoor dui die voorlopige ondersoek daarop dat die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor het. Hy was besig om seisoenswerkers van Wellington na Philadelphia te vervoer. “Die vragmotor het omgeslaan waartydens drie mense aan hul beserings beswyk het en altesaam 58 passasiers is na verskeie hospitale in die streek vervoer om mediese behandeling te ontvang. Twee van die beseerdes was in ‘n ernstige toestand en is per helikopter na die hospitaal vervoer,” het lt.kol Malcolm Pojie in sy verklaring gesê.
Intussen het DA-LP en woordvoerder oor landbou en omgewingsake, Andricus van der Westhuizen, gesê dié party pleit al jare lank dat veiliger vervoermaatreëls vir plaaswerkers ingestel word.
“Die DA het in Junie 2022 aan die destydse minister van vervoer, Fikile Mbalula, geskryf om ’n aantal oorwegings voor te lê om die vervoer van landbouwerkers in die Wes-Kaap te verbeter.
“Die brief het gevolg op die Wes-Kaapse Staande Komitee oor Landbou se aanbevelings in 2021 vir veiliger en meer waardige maniere om plaaswerkers in die provinsie te vervoer,” het Van der Westhuizen in ’n verklaring gesê.
Die aanbevelings het ingesluit die versterking van padverkeersregulasies soos dit betrekking het op landelike- en landbouwerkersvervoer; ’n 80km/h-spoedbeperking vir oop vragmotors wat passasiers in die provinsie vervoer; en ’n moontlike nasionale regeringsubsidie vir landelike, openbare vervoer wat busdienste vir landbouwerkers moontlik sal maak.
“Ons doen ook ’n beroep op alle belanghebbendes betrokke by landbouwerkersvervoer om veiligheid bo alles te prioritiseer.
“Die DA stuur ons meegevoel aan die geliefdes van die oorledenes, en ons gedagtes is by die beseerdes,” is die verklaring afgesluit.
* Nuwe inligting sal bygewerk word soos dit ontvang word.




