Voetoorgange se verf is oral in die dorp baie vervaag en mense vind dit kommerwekkend. Foto: Tamsyn Jantjies


Die wit strepe op die paaie in die dorp is almal vervaag, meen Worcester se padgebruikers. En dit hou ’n gevaar vir beide voetgangers asook motoriste in.

Op plekke is dit moeilik om uit te maak dat daar wel voetoorgange is.

Een van Standard se lesers meen die wit strepe op die dorp is in ’n swak toestand.

“Volgens my is die wit strepe, veral by die voetoorgange in ons strate, in ’n uiters swak toestand,” sê die leser wat verkies om anoniem te bly.

Aangesien bestuurders, en veral besoekers in die dorp, nie altyd weet of die merke op die pad deel uitmaak van voetoorgange nie en of dit verf was wat daar uitgeval het nie, veroorsaak dit baie verwarring en noue ontkomings.

“By Clicks in Stockenströmstraat is ek self al byna deur ’n voertuig omgery.

“Die voetoorgange moet almal met helder wit verf oorgeverf word.

“Die feit dat bestuurders nie die voetoorgange betyds of glad nie kan raaksien nie, is ’n groot gevaar vir voetgangers.”

’n Ander gemeenskapslid sê hy verstaan dat die plaaslike munisipaliteit volgens ’n rooster werk, maar sê ook hulle moet ’n prioriteitslys opstel.

“Maande gelede het ons wyk die BVM (Breedevallei Munisipaliteit ) gevra om ons stoptekens oor te verf. Toe was hul antwoord aan ons dat hulle vir die verf wag.

“Maar terselfdertyd verstaan ek ook nie hoekom hulle nie hierdie soort goed prioritiseer nie. Hier is soveel blinde en dowe mense op ons dorp wat daagliks loop om by hul bestemmings uit te kom; hoe gaan hulle weet daar kom ’n voertuig aan wat nie betyds gaan stop omdat die bestuurder nie die voetoorgang duidelik kan sien nie?”

Standard het die volgende vrae aan die munisipaliteit gestuur:

1. Is die munisipaliteit bewus van hoe erg die geverfde padmerke rondom die dorp vervaag het, tot die punt dat dit skaars sigbaar is?

2. Wanneer laas is voetoorgange, geel strepe, stoptekens en die lyne op die pad geverf?

3. Wanneer sal bogenoemde ’n nuwe laag verf ontvang sodat dit meer opvallend is vir beide bestuurders en voetgangers?

Die Breedevallei Munisipaliteit het soos volg geantwoord: “BVM-verkeer is tans besig om padmerke in verskeie (meestal) woongebiede te verf. Binne die volgende twee weke sal hulle in die middedorp begin.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article