Dwelmverslaafdes wat hom glo vroeër gedreig het, is na bewering verantwoordelik vir ’n brand wat verlede Saterdagnag in sy ma se huis in Parakeetstraat, Avianpark, Worcester, ontstaan het.
Lionel van Zyl (26), wat die huis met sy hulpbehoewende ma, Johanna Piedt (57), deel, was ten tyde van die brand nie tuis nie.
Piedt woon tans by haar dogter, Zelda van Zyl, in De Doorns nadat hul huis in Junie vanjaar ook vermoedelik aan die brand gesteek is.
Piedt is verlam aan die een kant van haar lyf en het ’n spraakprobleem nadat sy vroeër ’n beroerte gehad het.
Niemand is tydens Saterdagnag se brand beseer nie.
’n Verslae Van Zyl sê hy het Saterdagaand kort voor die voorval sy vriendin, Chloé van der Ross, se 21ste verjaardagpartytjie in Smartie Town – nie ver vanwaar hy woon – bygewoon.
Hy sê toe hy en Van der Ross omstreeks 00:30 op pad terug na sy huis in Parakeetstraat was, het hulle gesien die huis is aan die brand.
Van Zyl sê behalwe vir die klere aan sy lyf, het hy alles in die verwoestende brand verloor.
Hy sê die huis is aan die brand gesteek, vermoedelik deur twee mans wat dwelms gebruik.
Volgens hom gooi die twee glo gereeld saans klippe op inwoners in die buurt se huise se dak.
Van Zyl sê hy is voorheen al gedreig dat sy huis aan die brand gesteek gaan word.
“Ek het niks teen niemand nie. Ek het niemand gepla nie. Ek is nie ’n gangster nie.”
Hy sê tans slaap hy saans in die huis om dit op te pas.
Volgens Van Zyl het hy intussen die een kamer – wat ook onder die brand deurgeloop het – uitgeverf en van die vensters wat in die brand verwoes is, met onder meer plate bedek.
Volgens hom het hy tans nie regtig slaapplek nie.
Hy sê hul woning is in Junie vanjaar vermoedelik met opset aan die brand gesteek terwyl sy ma nog in die huis was. Volgens hom moes bure sy ma uit die brandende huis help dra.
Niemand is tydens die voorval in Junie beseer nie.
Die polisie het teen druktyd nie op Standard se navrae gereageer nie.





