Gesondheidswerkers van die Breedevallei is kort voor Internasionale Dag vir Verpleegkundiges geprys vir hul diensbaarheid en wat hulle in gemeenskappe oor jare belê het.
Altesaam 17 personeellede van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid is by die onlangse langdienstoekennings vir tien jaar diens vereer, sowel as vier vir 20 jaar diens en sewe vir 30 jaar diens.
Dr. Danie Theron, bestuurder van die Breedevallei-subdistrik, het gesê dit is ’n groot voorreg om die diensjare van dié personeellede te vier.
“Ons vier dit met dankbaarheid, want die behoud van ervaring is van groot waarde, en dit beteken ook dat ons mentors het wat die volgende geslag kan lei.”
Personeel is bedank vir hul diensbaarheid ten spyte van hul persoonlike omstandighede en uitdagings, en dat hulle mekaar in die werksplek ondersteun.
Een van die personeellede wat erkenning gekry het vir 30 jaar as lid van die staatsdiens, is Joan Jansen. Sy is ’n verpleegster by Brewelskloof-hospitaal en het 16 jaar ervaring in verpleging. Jansen (54) het aanvanklik vir 15 jaar as skoonmaker by Brewelskloof gewerk, en hoewel sy dit geniet het, het sy besef die tyd stap aan. Haar aansoek om opleiding as assistentverpleegster is aanvaar, en later het sy haar kwalifikasie as geregistreerde verpleegkundige voltooi. Sy het baie geheg geraak aan kollegas en pasiënte en het daarom nooit oorweeg om moed op te gee nie.
“Ek leer vandag nog só baie,” sê Jansen. “Verpleging leer ons wat dit is om vir ander om te gee. Ek sou graag wou sien dat ander verpleegsters eendag vir my ook sal omgee en my verpleeg soos ek vandag pasiënte verpleeg – met die nodige respek en ondersteuning aan die pasiënt.”
Haar raad aan mense wat nuut in die beroep is, is eenvoudig: “Beskou jou pasiënt asof dit jou eie familie of ouers is wat jy verpleeg. Neem dinge dag vir dag. Dit is belangrik dat jy dit doen omdat jy dit geniet en nie om ’n salaris te verdien nie.”





