’n Veroordeelde vroueslaner van De Doorns is Woensdag (6 Augustus) vyf jaar tronkstraf opgelê na hy ’n beskermingsbevel verontagsaam het deur die klaagster – met wie hy vroeër in ’n verhouding was – in die gesig te klap en ’n selfoon in haar gesig te gooi.
Moshe Plaatjie (37) se vonnis kom nadat hy skuldig gepleit het op twee klagtes wat verband hou met die verontagsaming van die bevel. Hy het hierna ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Die beskermingsbevel teen Plaatjie is op 29 Desember 2021 by die Strand-landdroshof bekom.
Dié bevel lui dat Plaatjie nie ’n daad van gesinsgeweld pleeg deur die klaagster aan te rand en of te dreig nie, nie haar woning geleë in Asanda Village in die Strand binne gaan nie, haar nie teister, op haar vloek of enige vorm van geweld teen haar pleeg nie.
Hy mag ook nie die klaagster se eiendom beskadig nie.
In die pleitooreenkoms erken Plaatjie dat ’n beskermingsbevel teen hom uitgeneem is.
Hy erken ook dat hy op 26 November 2022 – terwyl hy by die Lubisi- informele nedersetting in De Doorns was – die beskermingsbevel verontagsaam het.
Volgens Plaatjie was hy en die klaagster op die dag van die voorval besig om gesellig by ’n vriend se huis te verkeer toe sy hom konfronteer oor iets wat sy glo op sy selfoon gesien het.
Hy erken dat hy en die klaagster – ten tyde van die voorval – nie meer in ’n verhouding was nie.
Volgens hom het ’n verbale konfrontasie tussen hom en die klaagster gevolg waarna hy haar uit woede met sy oop hand in die gesig geklap het.
Met betrekking tot die tweede voorval, sê Plaatjie, dat hy en die klaagster op 8 Januarie 2023 – die dag van die voorval – by sy woning in die Mpumelelo- informele nedersetting in De Doorns was.
Volgens hom het hulle gestry oor die stand van hul verhouding en beweerde ontrouheid. Hy erken dat sy en die klaagster se verhouding ten tyde van die voorval reeds beëindig was.
Luidens die pleitooreenkoms was daar weer eens ’n verbale konfrontasie tussen hom en die klaagster. Hy het haar gedreig met fisieke geweld en uit woede ’n selfoon in haar gesig gegooi.
Plaatjie erken sy optrede was onwettig en strafbaar deur ’n hof.
Nozipo Masoleni het aangekla.




